LAASTE EEN HUIS TOE IS ’N VROT MUIS! - By Barbara Geldenhuys
Written By: Barbara Geldenhuys
Category: Children Short Stories
Competition: Global Poetry and Creative Writing Competition 2026
Barbara Geldenhuys presents an enchanting children's short story titled "LAASTE EEN HUIS TOE IS ’N VROT MUIS!" for the Global Poetry and Creative Writing Competition 2026. This delightful tale is part of the "Finkie se Veld-Avonture" series, offering young readers a playful journey through imaginative adventures filled with witty rhymes and dreamy escapades. Set in a vibrant world, the story captures the essence of childhood curiosity and the thrill of exploration.
About the Work
The story unfolds with Finkie, a sprightly field mouse, embarking on holiday adventures filled with whimsy and wonder. With a narrative rich in vivid imagery and playful language, Geldenhuys crafts a tale where the mundane transforms into magic. Themes of friendship, curiosity, and the joy of discovery are woven throughout, accompanied by delightful encounters with charming animal characters. The work's lively mood and engaging plot make it a captivating read for children and parents alike.
LAASTE EEN HUIS TOE IS ’N VROT MUIS!
Original Submission by Barbara Geldenhuys
LAASTE EEN HUIS TOE IS ’N VROT MUIS!
Finkie se Veld-Avonture: Vyf vrolike vakansiestories vol modderbomme en slim rympies
Hoofstuk Een: Die Saalsakkie-Avontuur
Finkie die klein veldmuisie skrik grootoog wakker en besef dit is vakansie. Heerlik! Heeldag van niksdoen, speel, lekker in die son lê en kattekwaad aanvang.
Dit is ’n pragtige, sonnige dag. Sy gooi haar pienk kombersie van haar af en spring uit die bed. Sy loer by haar boetie, Germuis, se kamer in. Hy lê nog hard en snork. Sy loer vinnig by haar ma en pa in. Hulle is ook nog diep in droomland.
Finkie se pootjies jeuk van opgewondenheid. Sy kyk gou in die yskas wat is daar vir ontbyt. “Mmm,” dink sy, “kaas en brood sal perfek wees.” Sy eet so vinnig dat die krummels orals waai, maar vee dadelik alles mooi skoon waar sy gemors het. Sy wil glad nie hê Mamma Muis moet vandag met haar raas nie.
Sy stoot die agterdeur oop. Die oggendlug ruik vars en koel. Doudruppels blink soos klein diamantjies op die gras en blomme. Mamma Muis se tuin is ’n ontploffing van kleur.
Wat gaan sy eerste doen? Skielik kry sy ’n blink plan. Sy loer vinnig oor haar skouer of iemand al wakker is en glip by die agterdeur uit. Sy gaan die boer se groot skuur verken! Sy weet sy mag nie. Pappa Muis het ernstig gewaarsku dat die plaas té gevaarlik is, maar vandag is sy lus vir avontuur.
“Ek, Finkie Muis, is hopeloos te nuuskierig,” fluister sy vir haarself. “Ek móét net sien wat in daardie skuur is. Daar is seker duisende gaatjies en wegkruipplekke!”
Sy hardloop so vinnig as wat haar klein pootjies haar kan dra, verby die ou akkerboom, oor die bruggie en al langs die groen mielieland. Sy stop eers toe die groot skuur voor haar opdoem. Sy kyk skrikkerig rond. Net toe sy van pure vrolikheid wil begin sing, onthou sy van die boer se yslike waghond. Skielik druk sy al twee haar pootjies oor haar mond. “Sjoe, amper maak ek ’n groot fout!” Daar, reg in die koel skaduwee van ’n boom, lê ou Boel.
Nou kan sy nie hardloop nie. Saggies, voetjie-vir-voetjie, kruip sy van paal tot paal na die skuur se deur. Haar hartjie klop in haar keel toe sy agter die laaste paal wegkruip. Sy loer versigtig om die kant. Geen beweging nie. Boel lê nog heerlik en balke saag.
Sy glip by die skuur in. Hier in hierdie groot gebou sal sy lekker kan verdwaal! Terwyl sy om haar rondstaar, ritsel iets hier naby haar.
“Hallo,” sê ’n klein stemmetjie skielik.
Finkie skrik so groot, sy spring sommer ’n entjie in die lug op!
“My naam is Finkie, maar waar is jy? Ek kan jou nie sien nie,” sê Finkie terwyl sy haar oë op skrefies trek.
“Hier teen die muur, lekker in die sonnetjie,” antwoord die stem.
“O, daar sien ek jou nou! Jy is so weggesteek teen die bakstene. Maar sê my, Gertjie Geitjie, wat makeer jou beentjie?” vra Finkie besorg.
“Ek het my been by die skool beseer,” sê Gertjie met ’n sug. “Kom sit hier by my in die son.”
“Baie dankie vir die uitnodiging, Gertjie, maar ek wil eers ’n bietjie deur die skuur snuffel,” sê Finkie opgewonde. “Ek sal later lekker saam met jou kuier en gesels.”
“Alles reg, sien jou later!” sê Gertjie en maak sy oë toe van lekkerkry in die son.
Net daar voor Finkie lê ’n groot fiets. Nuuskierig klim sy teen die speke op tot op die voorwiel. Sy begin loop, en die wiel begin tol! Al vinniger en vinniger draai dit in die rondte. Die wêreld tol saam. “Lekker!” piep Finkie vrolik, hoewel sy skoon duiselig raak.
“Moenie siek word van daardie gedraai nie, hoor!” waarsku Gertjie van sy sonkol af.
“Jy is reg. Netnou val ek en dan is my avontuurdag verby,” sê Finkie. Sy loop al stadiger totdat die wiel tot stilstand kom. Sy loer op na ’n dik tou wat teen die muur opkrul. Dalk kan sy teen die tou opklim tot by daardie hoë venster?
Kraaaak! weerklink ’n harde geluid agter haar.
Die groot skuurdeur gaan oop! Finkie se hart skiet in haar keel op. Sonder om te dink, duik sy in die heel eerste gaatjie wat sy sien. Sy sit stokstyf en loer deur ’n klein skeur in die materiaal. Dit is die boer en sy seun! Hulle swaar skoene stap reg op haar af. Skuins voor haar roep Gertjie vinnig en sag: “Is jy OK?”
“Ja, dankie!” fluister Finkie haastig terug net voor sy voel hoe haar wegkruipplek begin beweeg. “Sien jou later!” Sy knyp haar oë skrikkerig toe. Die boer en sy seun stoot die fietse by die skuur uit. Sy sit binne-in die fiets se saalsakkie!
Girts-girts, girts-girts, maak die fiets se wiele op die grondpad. Finkie sit doodstil en hou haar asem op terwyl die mansmense gesels. Maar naderhand raak dit vreeslik warm in die donker sakkie. Versigtig steek sy haar neusie en toe haar hele kop by die skeur uit.
Waaa! Die wind waai heerlik vars in haar gesig! Finkie se oë blink van pure opwinding. Die wêreld is pragtig van hier bo af! Die berge lyk reusagtig groot, die plante lyk soos ’n welige oerwoud, en sy kan kilometers ver sien. Sy hoor die seun lag en lag sommer van pure lekkerte saam. “Die vakansie het perfek begin!” skree sy teen die wind, maar niemand kan haar klein muisstemmetjie hoor nie.
Sy wonder waarheen hulle op pad is. Hulle ry verby die groot plaasdam en sy waai uitbundig vir Meneer en Mevrou Gans. Hulle blaas hard terug om haar te groet. Net toe haar maag begin rammel van die honger, hoor sy die pa sê: “Ons is amper daar.”
Die fietse stop en word saggies op die gras neergesit. Toe raak dit stil. Finkie waag dit om heeltemal uit die sakkie te klouter. Sy gaan sit regop op die leersaal en strek haar stywe beentjies uit. Sy kyk om haar rond en snak na haar asem.
Reg voor haar staan ’n groot perd met die alleroulikste klein vulletjie! Die klein perdjie sukkel nog om op sy lang, skraal beentjies te staan. Dit lyk net soos vuurhoutjies. Hy wankel links, wankel regs, en oeps, daar gaan sit hy op sy boudjies. Finkie lag so lekker dat sy haar magie moet vashou. Wat ’n wonderlike verrassing! Sy het nog nooit so ’n klein perdjie gesien nie. Haar boetie gaan haar nooit glo nie!
Die seun haal ’n groot, oranje wortel uit sy sak en gee dit vir die ma-perd. Die perd runnik hard van dankbaarheid. Finkie is so vasgevang in die oomblik dat sy amper te laat sien die pa en seun stap terug na die fietse toe. Vinnig, soos blits, duik sy terug in die saalsakkie.
Die fietse draai om en die terugrit begin. Weer ry hulle langs die grondpad verby die dam. Skielik spring ’n groot vis met ’n harde plons uit die water uit. Finkie gil soos sy skrik, maar gelukkig sing die wiel op die grondpad te hard vir die seun om dit te hoor. Toe sy weer kyk, sien sy ’n paddafamilie wat op ’n groot lelieblaar sit en aan n middaghappie smul.
“Middag paddafamilie!” roep sy oor die water.
“Middag veldmuisie! Waarheen is jy op pad?” roep hulle terug.
“Huis toe!” skree sy vrolik. Sy is eintlik baie bly, want die son sit nou hoog en dit raak vreeslik warm hier onder die saal.
Skielik herken sy die omgewing. Sy hoor ou Boel blaffend nader kom! Die groot waghond hardloop reg langs die fiets. Finkie vries toe Boel se yslike, nat neus so snuif-snuif hier reg by die saalsakkie snif. Haar hartjie klop so hard teen haar ribbetjies, sy is bang die hond hoor dit! Net toe sy dink sy is uitgevang, hoor sy die boer se vrou roep: “Boel! Kom ounooi se hondekind. Hier is ’n groot been vir jou!”
Boel draai dadelik om en hardloop weg. Wat ’n verligting! Die pa en seun stoot die fietse terug in die skuur, gesels nog ’n bietjie en stap dan uit. Toe alles doodstil is, kruip Finkie bewerig maar veilig uit die sakkie.
“Finkie, ek is so bly jy is veilig!” roep Gertjie Geitjie uit sy lêplek. “Gaan jy nou ’n bietjie hier by my sit en gesels?”
“Gertjie, ek sou bitter graag wou, maar dit is al laat en my mamma gaan wonder waar ek is,” sê Finkie haastig. “Ek moet huis toe hardloop. Hoop jou beentjie word gou gesond. Totsiens!”
“Kom kuier gou weer!” roep Gertjie agterna.
Finkie gee ’n vrolike waai by die skuur se deur. Sy kyk links en regs en hardloop toe so vinnig as wat haar klein pootjies haar kan dra, reguit huis toe.
Heeltemal uit asem storm sy by die muishuisie in. Sy is so dolgelukkig om veilig te wees dat sy haar boetie, Germuis, onkant betrap, hom om die middel gryp en in die rondte tol!
“Ag, los my!” brom Germuis en stamp haar weg. “Jy is ’n regte simpel sussie.”
“Wag maar tot jy hoor wat ek vandag gedoen het, dan sal jy my nooit weer ’n simpel sussie noem nie,” sê Finkie met haar kop in die lug.
Net daar val Mamma Muis se skottelgoedlap met 'n ligte plof op die vloer. Sy hardloop nader en gryp vir Finkie en trek haar in haar arms in. Sy druk haar so styf vas dat Finkie amper nie kan asemhaal nie.
“Finkie! Waar was jy?” Mamma se stem bewe en sy vee vinnig ’n muis-traantjie van haar wang af. “Ons het die hele tuin deurgesoek. Ek het gedink die plaasbakkie het jou raakgery of die uil het jou gevang!”
Finkie sien haar mamma se bewende pootjies en skielik sak haar vrolike gees. Sy voel ’n groot, harde knop in haar keel. Sy het glad nie daaraan gedink dat haar lekker avontuur haar mamma so ‘n groot skrik op die lyf sou gejaag het nie.
“Ek is jammer, Mamma,” fluister Finkie met ’n klein, skaam stemmetjie en druk haar neus teen Mamma se skouer. “Ek wil nie hê Mamma moet huil nie. Ek sal nooit weer wegglip sonder om te sê waar ek is nie.”
Pappa Muis kyk op oor sy koerant. Sy stem klink kwaai, maar daar is ’n sagte liggie in sy oë toe hy oor sy bril vir haar knipoog. “Ons is baie bly jy is veilig by die huis, juffroutjie. Maar omdat jy ons so laat skrik het, gaan jy jou Ma vanmiddag help met al die takies in die huis. Daar moet uitgevee word en die vensters moet blink gewas en gevryf word.”
Finkie is so verlig om terug te wees by haar liefdevolle gesin dat sy glad nie omgee om die werkies te doen nie. Sy gryp die besem en begin vrolik sing:
“Dit is lekker om ’n huis te hê,
’n Warm bedjie om in te lê.
Mamma en Pappa is lief vir my,
Vandag het ek lekker fietsgery!”
“Wat sing jy daar?” spot Germuis en loer oor sy skouer. “Jy het nie eers ’n fiets nie!”
“Ek hét gery,” sê Finkie en sing uit volle bors verder terwyl sy die besem onder Germuis se neus swaai.
“Ou Boel het my nie gesien.
Die paddas het kos bedien.
’n Vars wortel vir die perd,
My avontuur was dit werd.”
Sing-sing vee Finkie die vloer dat die stof sommer in groot, grys wolke by die vensters en die agterdeur uitbol! Dit is vakansie, en wie weet watter avontuur wag môre op haar? Sy kan nie wag nie! Maar een ding is verseker, hierdie keer gaan sy ’n briefie op die kombuistafel los om te sê waar sy is.
Germuis loer stilletjies om die deurkosyn na sy vrolike sussie. Hy krap sy agterkop en fluister saggies vir homself: “Môre... môre staan ek ook vroeg op!”
Hoofstuk Twee: Visvang by die Dam
Finkie lê met haar ogies styf toe en dink aan gister se heerlike avontuur.
“Finkie! Finkie, is jy wakker?” fluister Germuis angstig. “Maak oop jou oë, sussie!”
Finkie loer deur haar lang wimpers na haar boetie. Sy maak of sy nog vas aan die slaap is. Germuis se geduld is egter vinnig op en hy begin haar skud. Finkie se tande klap skoon soos hy haar skud, maar sy knyp haar ogies hardkoppig styf toe.
“Word nou wakker, sus! Die dag het al begin en dit is vakansie. Kom nou, word wakker, ou Finkie-man,” sê Germuis moedeloos. Finkie verseg om te roer.
Toe kry hy ’n blink gedagte. Germuis vat een van die pouvere op Finkie se lessenaar en kielie haar voetjie wat onder die kombers uitsteek. Dit was een te veel vir Finkie. Sy bars uit van die lag en skop haar bene in die lug. “Hou op! Hou op!” gil sy.
“Sjuut!” sê Germuis vinnig en druk sy pootjie op haar mond. “Jy gaan die hele buurt wakker maak. Jy weet hoe kwaad Tannie Duif raak as ons haar kleintjies wakker raas.”
Al twee die muisies spring op en gaan hang by die venster uit om te kyk of die duif-familie nog slaap. “Sjoe,” sê Finkie verlig. “Ons is gelukkig vandag. Die kleintjies is nog almal in droomland.”
“So, wat gaan ons vandag doen?” vra Germuis opgewonde. “Dit is nog lekker vroeg.”
“Kom ons gaan dam toe,” sê Finkie dadelik.
“Dam toe? Maar ons mag nie!” sê Germuis skielik bang. “Wat gaan ons buitendien dáár doen?”
“Visvang!” kondig Finkie aan. “Gister toe ek verby die dam gery het, het ek ’n yslike vis sien spring. Ek wil gaan kyk of ons hom kan vang.”
Germuis krap sy kop. “Jong, ek weet darem nie... maar as jy gaan, gaan ek ook. Ek wil nie vandag weer by die huis sit en niksdoen nie. Kom ons gaan vra vir Mamma of ons kos kan kry vir ’n piekniek.”
Nadat hulle vinnig aangetrek het, ontbyt saam met Mamma en Pappa geëet het en hulle tande geborsel het, pak Mamma Muis vir hulle koue koeldrank en soetkoekies in.
“En waar gaan julle vandag piekniek hou?” vra Pappa Muis oor sy koerant.
Germuis en Finkie kyk vinnig en skuldig na mekaar.
“Ons gaan sommer net hier in die veld in stap...” begin Germuis dapper.
“...en dan gaan ons daar by die klein rivierstroompie piekniek hou,” voeg Finkie vinnig by.
“Ek hoop julle geniet dit, en moenie te laat huis toe kom nie, hoor,” sê Mamma Muis liefdevol.
“Ons sal nie!” koor die twee saam. “Totsiens Mamma! Totsiens Pappa!”
Elkeen het ’n rugsakkie op die rug met kos en ’n warm truitjie. Mamma het gesê dit mag dalk later koud raak. Germuis dink egter net aan die lekker swem en baljaar in die water. Sy maag rammel sommer klaar as hy aan die soetkoekies dink. Hy wens hulle was al klaar daar.
Finkie loop vooruit en sing uit volle bors.
“Maar hoe gaan ons die vis vang, Finkie?” vra Germuis. Finkie hoor niks nie, want haar eie gesang is te hard. Germuis is naderhand so geïrriteerd met Finkie se singery. Hy tel ’n mieliepit op en gooi Finkie kolskoot agter teen die kop.
Eina! “Wat dink jy doen jy? Ek het my amper doodgeskrik!” sê Finkie sommer baie vies.
“Ek roep jou al vyf keer, maar jy maak so baie geraas met jou singery dat jy my nie hoor nie,” sê Germuis, net so kwaad omdat sy sussie so deksels moedswillig kan wees.
“Wat wil jy hê?” vra Finkie ongeduldig.
“Hoe gaan ons die vis vang en met wá́t?”
“Ek gaan die paddafamilie vra om my te help,” sê Finkie geheimsinnig.
“Wie? Die paddafamilie?”
“Ja, jong, jy sal sien,” lag Finkie en begin sommer weer van voor af sing:
“My naam is Finkie Muis,
Ek loop ver van die huis.
My broer is tog so bang,
Daarom my gesang!”
“Ons gaan 'n vissie vang,
en by die dam uithang.
Tiekie hier en twidel daar,
en lag sommer deurmekaar!”
Germuis voel of hy mal raak van sy sussie se rympies. Hulle stap al langs die mielieland, verby die stroompie en die groot miershoop. By die dik boom draai hulle regs. Net ’n klein entjie verder lê die dam. Die water blink soos silwer in die son.
Albei is vreeslik opgewonde. Skielik skree Germuis: “Laaste een by die dam is ’n vrot muis!”
Finkie laat haar nie twee keer nooi nie en spring soos blits weg. Germuis moet uithaal om haar van agter af in te hardloop. Uitasem kom die twee by die damwal aan.
“Ooh, dit is so mooi,” piep Finkie.
Germuis gooi sy rugsak op die gras neer en gly sommer dadelik af tot in die water. Ploef! “Dit is heerlik! Kom koel jou voetjies af,” nooi hy. Finkie haal haar rugsakkie af en gly agterna. Die twee baljaar te lekker in die water.
“Hi julle twee! Kan ek ook saam speel?” vra ’n stem skielik.
“Wie is jy? Waar kruip jy weg? Ons kan jou nie sien nie!” roep Germuis.
“Hier man, hier sit ek op die blaar! Kyk hier by die pers waterlelie. Ek is Pedro Padda.”
“Hallo Pedro,” sê Finkie. “Ek is Finkie en dit is my boetie, Germuis. Ons het gekom om vis te vang vandag.”
Pedro se oë rek groot. “Is jy nie die muisie wat gister hier verbygery het in die fiets se saalsakkie nie? Dit moes wonderlik gewees het om die wind so in jou gesig te voel!”
“Ja, dit was fantasties om die wêreld van so hoog af te bekyk,” vertel Finkie met blink oë. “Maar vandag wil ons daardie groot vis vang wat gister met ’n boog uit die water gespring het. Kan jy ons help? Asseblief?” smeek sy.
“Kwaak-kwaak-kwaak!” lag Pedro hard. “Julle is heeltemal te klein om daardie groot vis te vang! In elk geval, dit is Professor Verik Vis. Hy is vreeslik slim en vriende met ons almal hier in die dam. Ons beskerm mekaar en vang mekaar nie. Ons is een groot familie.”
“Ooh...” sê Finkie teleurgesteld.
Germuis voel sommer dadelik omgekrap. “Nou is ons hele avontuur opgedons,” mompel hy. “Dit gaan sommer ’n slegte dag wees.”
“Toe-maar,” sus Pedro gaaf. “Kry julle rugsakkies, dan kom drink julle tee saam met my familie. Die lelieblare is groot en sterk genoeg om julle gewig te dra.”
“Dit sal heerlik wees!” Finkie klim versigtig op ’n groot, groen blaar. “Kyk boetie, die blaar dryf op die water en ek sink nie eers nie! Gee asseblief my rugsakkie aan.”
En daar dryf die twee muisies en Pedro Padda op die dam rond. Finkie en Germuis hang hulle lang sterte in die water en lag te lekker. Hulle speel en baljaar saam met Pedro tot hulle heeltemal uitasem is. Pedro se ma is net so bly dat haar seun nuwe maatjies vir die vakansie het.
Toe die son begin sak, groet Finkie en Germuis die vriendelike paddafamilie.
“Dankie vir ’n wonderlike dag. Ons het nou wel nie ’n vis gevang nie, maar dit was sommer bakgat om so op die blare rond te dryf,” sê Germuis met oë wat vonkel.
“Totsiens julle almal!” roep Finkie.
“Kom kuier gou weer!” skree Pedro net voor Finkie en Germuis agter die damwal verdwyn.
Die twee muise hardloop dat hulle ooplê terug huis toe. Hulle storm die huis binne en begin albei gelyk praat oor die blare wat dryf, die paddafamilie, en Professor Verik Vis. Hulle is so opgewonde dat hulle skoon vergeet het van die leuen wat hulle vanoggend vertel het.
Pappa Muis sit rustig agteroor en luister na die twee se mannewales. Toe hulle uiteindelik vir ’n oomblik stilbly om asem te haal, vra Pappa Muis baie rustig: “So, julle was toe by die dam?”
Finkie en Germuis skrik so groot dat die woorde gelyk in hulle kele vassteek. Al die vrolikheid verdwyn soos mis voor die son. Hulle kyk vinnig na mekaar, en toe na die vloer.
Mamma Muis laat dadelik haar teekoppie in haar skoot sak. Haar gesig word bleek. “Die dam?” fluister sy met groot oë. “Maar... julle het gesê julle gaan na die klein stroompie toe.”
Skaam kyk Finkie na haar tone. “Ons het gaan visvang by die dam. Ons... ons het nie gedink dit is so erg om ‘n halwe waarheid te vertel nie.
Germuis knik bangerig, sy stertjie styf tussen sy agterpote ingetrek. “Ons is jammer ons was nie eerlik nie”
Mamma Muis se oë skiet vol trane. Sy trek al twee die muisies styf teen haar vas. “Dink net wat kon met julle gebeur het! Die dam is diep, en Professor Verik Vis is dalk gaaf, maar daar is groot reiers met lang nekke wat soms daar jag! As iets verkeerd geloop het, sou ons nie eers geweet het waar om na julle te soek nie!”
Pappa Muis sit sy arm vertroostend om Mamma Muis en kyk ernstig na sy twee kinders. Die kwaai liggie in sy oë is weg, maar sy stem is baie swaar. “’n Leuen is soos ’n diep poel water wat ‘n muis insluk. Dit voel dalk eers soos ’n lekker geheim, maar dit vat julle vryheid weg. Omdat ons julle nie alleen in die veld kon vertrou nie, gaan julle vir my môre in die tuin help. Daar is heelwat wat gedoen moet word.”
“Goed, Pappa,” sê albei vinnig met klein stemmetjies en skarrel weemoedig na hulle kamers toe.
Finkie gaan lê op haar bed met haar armpies agter haar kop. Die kamer voel skielik baie stil en leeg. Sy dink aan haar mamma se trane en hoe sleg dit voel om die mense vir wie jy lief is, te bedrieg. Die trane loop warm oor haar wange totdat sy aan die slaap raak.
Germuis sit op die vensterbank en kyk uit na die donker wordende veld. Die herinnering aan die drywende lelieblare voel nie meer soos ’n triomf nie. Hy kyk op na die eerste ster wat verskyn en fluister saggies vir homself:
“Die dag was pragtig mooi
Toe die paddas ons uitnooi.
Maar my hart is nou seer,
Want ’n leuen breek meer.”
Met ’n diep sug klim hy in sy bed, gereed vir môre se harde werk in die tuin.
Hoofstuk Drie: Die Veldwinkel en die Blink Oë
Finkie vee oor haar gesiggie. Sjoe, dit was warm vandag! Haar armpies is sommer lam en seer van al die harde werk. Sy moes al die blare ophark, die randjies van die blombeddings afspit, die groentetuin natspuit en al die hardnekkige bossies uittrek. Sy moet net gou die graaf en hark in die stoorkamer wegbêre, dan is sy heeltemal klaar vir die dag.
“Finkie! Finkie, waar is jy?” roep Germuis vanuit die kombuis.
“Hier in die pakkamer,” sê Finkie moeg.
“Mamma Muis sê jy moet jou handjies was en kom eet! Maak gou jong, ek is dood van die honger na al die kruiwa stoot en plante snoei.”
Toe Germuis sien sy sussie draai te lank, sê hy gaaf: “Gaan jy maar solank vooruit, ek sal die pakkamer se deur sluit en die sleutel bêre.”
Die kos op die tafel lyk ekstra lekker vandag. Die twee klein muisies is pootuit na al hulle harde werk. Germuis eet so baie dat sy oë naderhand self begin toeval. Finkie smul net so lekker aan haar kos. Uit die hoek van haar oog sien sy ’n heerlike bak nagereg op die kombuiskas staan.
Pappa Muis glimlag stil toe hy sien hoe vaak die twee is. Hy is vreeslik lief vir sy twee woelwaters.
Mamma Muis knipoog vir Pappa Muis en sê: “Pappa, het hierdie twee kinders darem nie vandag bitter mooi gewerk nie? Ek dink ons moet hulle môre toelaat om Veldwinkel toe te gaan saam met Santie Skilpad.”
Voor Pappa Muis nog ’n woord kan uiter, gil Finkie: “Jipppeeee!” en klap haar handjies van pure opgewondenheid.
Germuis spring regop en gee sy pa ’n yslike, vet drukkie. “Dankie, Pappa! Dit gaan so lekker wees!”
“Nou ja, dan dink ek julle twee moet gaan was en inkruip. Dan kan julle lekker rus, sodat julle môre die hele dag saam met julle skilpadvriende kan geniet,” sê Pappa Muis met ’n knik.
Gelukkig is Finkie en Germuis so moeg dat toe hulle koppies die kussings raak, hulle oë dadelik toegaan. Hulle droom die hele nag lank van die heerlike vakansie wat nog voorlê.
Die volgende oggend maak Mamma Muis hulle vroeg wakker sodat hulle kan eet en regmaak vir die groot uitstappie. Sy gee vir elkeen ’n blink geldjie om vir almal ’n roomys by die winkel te koop. Die twee is so opgewonde hulle kan skaars stilsit om hulle pap op te eet.
Net toe hulle klaar is, is daar ’n harde klop-klop-klop aan die agterdeur. “Santie is hier!” skree die twee tegelyk. Hulle storm op die deur af. Dit is ’n gestoei en ’n gespartel tussen mekaar om die eerste een te wees om by die deur uit te kom.
“Môre, julle twee! Is julle reg vir die rit Veldwinkel toe?” vra Santie Skilpad vrolik.
“Môre!” sê Finkie. “En ja, ons twee is meer as reg!” lag Germuis.
Hulle groet Mamma Muis haastig en klouter sommer dadelik op Santie se breë, harde rug. Al geselsend stap Santie daar weg met die twee muisies wat stewig bo-op haar dop sit en ry.
“Waar is Soekie en Sarel Skilpad dan?” vra Germuis en kyk rond.
“O, hulle wag daar voor in die pad vir ons. Hulle moes net gou ou Meneer Akkedis se inkopielys gaan optel.”
“Ek sien hulle! Daar anderkant by die groot wilgerboom!” skree Finkie en wys met haar pootjie.
Germuis gly vinnig van Santie se rug af en hardloop na Soekie en Sarel toe om solank hallo te gaan sê. Nadat almal mekaar opgewonde gegroet het, stap die vyftal al langs die kabbelende stroompie in die rigting van die Veldwinkel.
Terwyl Sarel en Germuis vooruitloop en klippies in die water gooi, begin Finkie weer uit volle bors sing:
“Santie, Soekie en Sarel
loop kaelvoet na die winkel.
Ek ry op Soekie se rug,
nou-nou gaan ons oor die brug!
Germuis gooi ’n klippie,
Sarel gooi ’n klippie.
Die klippie wip op die water,
en ons hele klompie skater!”
So loop almal al geselsend en laggend tussen die groen bome deur na die Veldwinkel toe. Hulle is baie bly dat dit vakansie is en dat hulle nie skool toe hoef te gaan nie.
“Kom ons kyk wie is eerste by die brug!” skree Germuis skielik. Almal spring weg en begin hardloop.
“Ek is eerste!” skree Germuis toe hy sy poot op die houtplanke sit. “Julle is almal veels te stadig vir my!”
Santie lag te lekker van daar doer agter. “Jy weet mos ons skilpaaie is maar stadig van nature, Germuis, maar ons het darem probeer!”
“Ek is al so dors, ek kan nie wag voor daardie heerlike, yskoue gemmerbier wat hulle by die winkel verkoop nie,” sê Sarel terwyl hy sy lippe aflek.
“Ek ook nie!” stem Germuis saam.
“Julle manne dink ook net aan julle mae,” spot Soekie en stoot haar neusie in die lug.
Sarel en Germuis trek aspris hulle neuse ook op vir die meisies, tel ’n paar ryp bessies op en begin hulle daarmee gooi.
Eina! “Haai, julle twee! Hou nou op, dit maak seer!” skree Finkie en koes. Soekie en Santie voel egter niks nie, want die bessies spat net vrugteloos teen hulle harde doppe. Hulle giggel te lekker vir Finkie wat so moet koes-koes vir die vlieënde bessies.
Die twee seuns raak gou moeg vir die speletjie. Net toe hulle dink aan wat hulle volgende kan aanvang, roep Santie uit: “Kyk, daar is die winkel!”
Nou praat almal gelyk oor watter geur roomys hulle gaan kies en of hulle gemmerbier of pynappelsap gaan drink. Binne die Veldwinkel help hulle eers om al die goedjies op Meneer Akkedis se lysie te kry. Dit neem hulle nie baie lank nie. Daarna help hulle vir Santie met haar mamma se inkopies. Ongelukkig het die winkelier nie die spesifieke materiaal gehad wat Mevrou Skilpad gesoek het nie, maar hy beloof om dit dadelik te bestel.
Toe al die grootmens-besigheid afgehandel is, is dit uiteindelik tyd vir die roomys en koeldrank!
Na ’n lang gekies en gekeur het elkeen sy eie gunsteling-geur roomys en ’n kleurvolle koeldrank. Hulle span heerlik uit onder ’n groot koelteboom. Die gras is sag en ’n briesie waai koel oor hulle. Almal smul te lekker aan hulle verversings.
Na ’n rukkie, toe hulle magies trommel-dik geëet is, sê Santie: “Ek dink ons moet maar begin oppak sodat ons weer huiswaarts kan keer.” Hulle ruim gou alles netjies op waar hulle gesit het en pak die inkopies op Santie se rug. Germuis en Sarel help om te sorg dat al die pakkies stewig vasgemaak is.
Net toe hulle wou loop, sê Germuis en Sarel hulle moet net gou-gou weer na die winkel toe gaan vir iets. Die meisies begin toe maar solank stadig pad langs terug stap. Hulle almal is nou lekker lui van die eet en die son wat so heerlik op hulle bak.
“Ai,” sug Finkie tevrede. “Dit was darem nou ’n vreeslike aangename dag gewees.”
By die klein bruggie haal die twee seuns die meisies weer in.
“En hoekom blink julle twee se oë nou so skelm?” vra Santie agterdogtig vir Sarel en Germuis.
“Nee, niks nie,” antwoord die twee vinnig en begin haastig weer klippies in die stroompie gooi. Die water blink pragtig waar die middagson daarop skyn.
Hulle loop almal so ingedagte dat toe hulle weer sien, is hulle alreeds by die afdraaipad na Meneer Akkedis se huis. Germuis hardloop vinnig om sy inkopies vir hom af te lewer. By die groot boom neem Sarel, Soekie en Santie afskeid van hulle twee muisvriende.
“Baie dankie dat julle saam met ons gekom het,” sê Santie gaaf.
“Dit was heerlik!” sê Finkie. “Dit is óns wat moet dankie sê.”
“Ja, ja, dit was bakgat,” beaam Germuis, en fluister vinnig iets geheimsinnigs in Sarel se oor.
“Kom,” sê Finkie vir Germuis. “Ek gaan eerste by die huis wees en jy gaan beslis laaste kom!”
Germuis wil nog stry, maar besluit as hy sy sussie wil inhaal, moet hy nou dadelik laat spaander. Reg by die agterdeur haal hy haar in, en die twee val so met die deur en al by die huis in!
“Ooh, griet!” skree Mamma Muis en spring eenkant toe van die skrik. Pappa Muis skrik so groot vir Mamma Muis se gille dat sy pen sommer deur die lug trek. Die twee klein muisies rol op die grond soos hulle lag vir hulle ouers se reaksie.
“Nee, julle twee,” sê Pappa Muis terwyl hy sy pen optel. “Julle sal ons nog eendag ’n hartaanval gee! En moet julle altyd resies jaag oor alles?”
“Ek moet vir Germuis wys ek is die baas,” giggel Finkie.
“Jy kroek…” wil Germuis nog opper.
Maar Mamma Muis val hom vinnig in die rede. “Het julle die dag toe geniet?” Sy stryk haar voorskoot reg nadat dit skeef getrek het met die skrik.
“Ja, sommer baie!” sê die twee en spring op om hulle ouers te groet. “Baie dankie dat ons kon gaan. Die koeldrank en roomys was heerlik!”
“Kom ons gaan vertel vir Tannie Duif waar ons oral was,” stel Finkie voor. Hulle wil net by die deur uitstap toe Pappa Muis se skerp oë iets op die grond sien lê.
“Wag ’n bietjie. En wie se lekkers is dit hierdie?” vra hy met ’n frons terwyl hy na ’n paar helder papiere op die mat wys.
Finkie kyk na die helder papierstukkies. “Dit is beslis nie mý lekkers nie, Pappa.”
Germuis bly tjoepstil. Sy oortjies sak effens.
“Germuis, is dit joune?” vra Pappa Muis.
“Ja, Pappa,” prewel hy.
“En waar kry jy dit? Ons het net genoeg geld gegee vir die roomys.”
“By... by Sarel Skilpad,” mompel Germuis en kyk na sy tone.
“Maar...” begin Finkie verbaas, want sy onthou hoe skelm die seuns se oë geblink het toe hulle uit die winkel gekom het. Sy bly egter dadelik stil.
“Ja?” sê Pappa Muis en kyk vir Finkie. “Wat wou jy sê?”
Finkie loer vinnig na Germuis en sien dat sy boetie se gesiggie skoon rooi en bangerig lyk. “Nee, niks nie, Pappa,” sê Finkie lojaal.
Germuis weet egter nou hy is in ’n hoek gedryf. Hy kan nie meer sy sussie of sy vriend blameer nie.
“Germuis,” vra Mamma Muis sag maar met groot kommer. “Het julle daardie lekkers geneem sonder om te vra?”
’n Groot, swaar traan loop oor Germuis se snoet. Hy knik sy kop baie stadig. “Ja... ons wou net kyk of ons... of niemand ons sien nie. Dit was verkeerd. Ek gedink dit is ‘cool’ om so iets te doen. Nou voel ek aaklig daaroor.”
Mamma Muis sit haar pootjies hartseer oor haar wange. Sy sê niks nie, maar haar oë wys hoe diep dit haar seermaak.
Pappa Muis staan stadig regop. Sy stem is baie ernstig. “As ’n mens iets neem wat nie joune is nie, Germuis, vat jy ook van die winkelier se harde werk weg. Pak jou rugsak. Ek en jy stap nou dadelik terug Veldwinkel toe sodat jy die oom in sy oë kan kyk en die lekkers teruggee.”
“Maar Pappa, die lekkers is klaar oopgemaak! Ek het nie geld om daarvoor te betaal nie!” huil Germuis nou hardop.
“Ek sal die oom vandag namens jou betaal,” sê Pappa Muis streng. “Maar jy gaan elke sent terugverdien. Vir die volgende twee dae gaan jy my help om die pakkamer reg te pak, en daar sal geen maatjies of televisie wees nie totdat jou skuld vereffen is.”
“Goed, Pappa,” sê Germuis met ’n klein, snikkende stemmetjie.
Finkie staan by die venster en kyk hoe haar pa en haar boetie by die deur uitstap op pad terug winkel toe. Germuis se koppie hang laag en sy klein stertjie sleep treurig agter hom aan in die stof. Finkie se eie hartjie trek sommer toe. Die hele vakansie-gevoel is skielik weg. Sy voel verskriklik jammer vir hom.
Net daar neem sy ’n besluit. Môre gaan sy hom stilletjies met al die ekstra werkies help sodat dit vinniger klaar kan kom. En in die aande sal sy saam met hom in sy kamer sit om prentjies te teken, sodat hy nie so alleen voel nie. Hy het ’n groot fout gemaak, maar hy bly haar boetie.
Finkie draai om, gryp haar tekenboek, en begin saggies vir haarself sing:
“Ek het my boetie lief,
hy is my harte-dief.
Vandag het hy geleer,
steel maak jou hart seer.
Hy is wel ingeperk
en moet nou hard werk.
Hulp gaan ek verleen,
dan is hy nie alleen.”
Met ’n rustiger hart stap Finkie by die agterdeur uit na die groot boom toe, gereed om die dag se avonture met die duif-familie te deel, maar om te swyg oor haar boetie se geheim.
Hoofstuk Vier: Die Modderbom-Gaste
Finkie gaap en vryf die slaap uit haar ogies. Heerlik, dink sy. Dit is vakansie en die skole begin eers oor ’n paar dae. Sy kan vandag nog uitbundig speel en die vars buitelug geniet. Vinnig spring sy uit die bed en gaan hang by die venster uit.
“Goeiemôre, Tannie Duif! Wat ’n pragtige oggend!”
“Môre, Finkie,” koer Tannie Duif van haar tak af. “Jy het laat geslaap vanoggend.”
“Jaaaa, Tannie.” Finkie strek haar lyfie lekker uit. “Ek was sommer heerlik lui, maar nou is ek dadelik lus vir ’n stukkie avontuur.”
“Avontuur?” skree ’n parmantige stem skielik doer onder by die boom se groot wortels. “Wat se avontuur kan ’n meisie-muis tog nou hê? Julle lê mos net heeldag en maak julle mooi, of gesels oor absoluut niks.”
“Is nié!” sê Finkie dadelik vererg. “Wys jou gesig dat ek kan sien wie so parmantig is en dinge probeer omkrap!”
Morné Muis steek sy grys neusie spottend agter die dik boomwortel uit.
“Ooh, jippppeeee!” gil Finkie skielik. “Germuis, word wakker! Morné en Missie is hier!”
Germuis hardloop sy suster se kamer binne en hang sommer dadelik saam met haar by die venster uit. “Hi, ou Morné! Ek is nou-nou daar onder!” skree Germuis opgewonde.
Finkie en Germuis trek vinnig hulle speelklere aan en jaag by die trappe af. “Môre Ma, môre Pa! Morné en Missie is hier!” skree die twee gelyk toe hulle die kombuis instorm.
“Stadig, stadig,” maan Pappa Muis met ’n glimlag. “Dit is reg, julle tante en oom kom vandag vir die dag kuier.”
Net toe is daar ’n vrolike klop-klop-klop aan die voordeur.
“Môre, môre!” sê Mamma Muis en maak die deur wyd oop. “Kom binne, julle! Julle is net betyds vir ’n lekker warm koppie tee en vars botterbroodjies.”
Almal groet mekaar oor en weer, en nog voor die ouers enige reëls of take kan uitdeel, glip die vier klein muisies stilletjies by die agterdeur uit. Pappa Muis knik vir Germuis, want hy het vir hom spesiaal toestemming gegee om vandag sy straf te staak aangesien sy familie vir die dag kuier.
“Dit is nou ’n heerlike verrassing om julle hier te hê,” sê Germuis vir sy neef.
“Ons ouers het ons glad nie vertel dat julle kom kuier nie. Dit gaan sommer ’n fantastiese dag wees!” sê Finkie uitbundig.
“Kom,” sê Germuis en wys watter koers hulle moet inslaan. “Vandag gaan ons hier onder by die stroompie speel. Dit is ’n warm, sonnige dag, perfek om lekker nat te word en in die modder te baljaar.”
“Goed,” stem die meisies saam. “Dit klink na ’n kookwater plan.”
Vinnig skarrel die klomp om die hoek van die huis, dolgelukkig dat hulle weg is voor hulle teruggeroep word. By die stroompie aangekom, begin die twee seuns onmiddellik speel. Hulle bou paaie, dorpe, plase en groot landerye in die sagte modder. Binne minute is hulle in ’n fantasiewêreld van hulle eie.
Die meisies is egter glad nie lus vir die modder nie. Hulle gaan lê ontspanne onder die koelteboom op ’n sagte stukkie groen gras. Hulle gesels land en sand oor al die seuns in hulle verskillende skole, oor die allernuutste muis-modes en natuurlik die nuutste skandale van al die bekende muise in die omgewing.
So gaan die tyd ongemerk verby. Die meisies skinder so lekker dat hulle glad nie agterkom die seuns raak naderhand vreeslik verveeld met hulle modderpaadjies nie. Die seuns soek aksie, en hulle begin stilletjies ’n bose plan beraam om die meisies met modder te gooi!
Hulle was net oorgehaal om die eerste groot hande vol nat modder op die meisies te laat neerreën, toe hulle ouers van die huis af roep vir middagete. Die seuns laat nie op hulle wag nie en laat spaander dadelik huis toe. Die meisies rol stadig op hulle mae om en staan met ’n kreun op. Hulle is skoon styf gelê. Al babbelend loop hulle agterna. Niks wat húlle jaag nie.
Middagete is ’n koningskos-affêre. Eier-en-tamatie-toebroodjies met ’n vars vrugteslaai en romerige roomys vir nagereg. Die seuns eet hulle magies trommel-dik. Die meisies eet egter min, want hulle monde staan nooit stil van al die gepraat nie.
Nadat hulle die grootmense vinnig gehelp het om op te ruim, vat die vier muisies weer die pad stroompie toe. Die seuns is nou glad nie meer lus om in die modder goed te bou nie, en uit pure verveeldheid begin hulle die meisies doelbewus terg.
“Hou nou op, julle twee!” sê Finkie vies. “Gaan speel iewers anders, ons het nog vreeslik baie om oor te gesels.”
Die seuns steur hulle egter nie aan hulle nie en hou net aan en aan om hulle te verpes. Die meisies probeer weghardloop, maar Morné en Germuis is veels te rats vir hulle. Elke keer hardloop die seuns voor hulle in en begin hulle van voor af koggel.
Finkie en Missie besef vinnig hulle sal slim moet optree om hierdie twee knape te ontglip. Hulle begin fluisterend ’n teenaanval beplan. Toe Germuis en Morné vir ’n enkele oomblik wegkyk, glip die meisies blitsvinnig onder ’n groot, plat klip in.
Toe die seuns weer opkyk, is daar niemand nie.
“Nou waar is hulle dan heen?” vra Morné verbaas en kyk rond.
“Hulle het sowaar weggekom,” sê Germuis, glad nie beïndruk dat twee meisies hom uitoorlê het nie.
“Kom,” sê Morné en knipoog. “Kom ons loop so entjie vooruit en gaan lê hulle voor. Dan, as hulle terugstap huis toe, val ons hulle aan. Daar net anderkant daardie pol gras is ’n perfekte wegkruipplek met baie nat modder.”
“Ja!” stem Germuis opgewonde saam. “Dan laat ons daardie modderbomme op hulle reën! Ek kan nou al sien hoe hulle gil en skree soos regte meisiekinders. Kom ons maak gou voor hulle terugkom.”
Intussen fluister Missie onder die klip: “Wat gaan ons nou doen?”
“Wag,” fluister Finkie met ’n vonkel in die oog. “Ek ken ’n geheime paadjie wat ons presies agter hulle gaan uitbring. Dan val óns hulle van agter af aan!”
“Hie-hie-hie!” piep-lag Missie sag. “Ons gaan húlle laat gil en skree!”
Saggies en versigtig hol die twee meisies al langs ’n dik boomwortel tot by die stroom. Gou spring hulle rats van klip tot klip oor die water. Vinnig skarrel hulle tussen die lang riete deur en loop toe oor ’n ou boomstomp terug oor die stroom. Hulle is nou presies agter die twee seuns se rûe!
Die meisies kruip agter ’n groot bos weg. Finkie en Missie werk vinnig en doodstil. Hulle rol die een modderbal na die ander terwyl hulle die seuns fyn dophou. Die seuns sit nog paraat en dink die meisies gaan van voor af kom. Hulle het geen benul van die gevaar agter hulle nie.
Toe Finkie en Missie se ammunisie reg is, begin hulle die seuns omtrent looi met die modderballe! Plof! Plof! Plof! tref dit die seuns teen hulle rûe. Die seuns gil en skree van die skrik, en die meisies proes soos hulle lag.
“Eina!” gil Morné.
“Julle kroek!” skree Germuis kwaai. “Julle speel glad nie reg nie!”
“Hoekom nie?” vra Finkie laggend. “Julle wou óns mos voorlê. Nou kry julle julle eie medisyne! Wat is nou onregverdig daaraan?”
Missie gooi sommer nog so ’n paar modderbomme agterna, en die seuns moet omtrent rondwip en koes om die vlieënde balle te ontduik. Die meisies geniet dit vreeslik om te sien hoe die twee dapper seuns skielik so moet skarrel.
Finkie begin die seuns aspris spot en sing uit volle bors:
“Ons is besig om te wen,
die seuns is vasgepen!
Ons gooi ’n modderbom,
die seuns loop al lekker krom!
Hie-hie, ha!
Tralala!”
“Die meisies dra die kroon,
ons word met wen beloon.
Die ander twee
moet maar moed opgee.
Hie-hie, ha!
Tralala!”
Die seuns voel vreeslik verneder deur die rympie dat hulle emosies oorkook. Met ’n gebrul storm hulle op die meisies af! Hulle pen die twee plat op die gras en begin uit wraak modder in hulle gesigte te smeer. Die meisies probeer met alle mag om onder die seuns uit te worstel, maar die seuns is eenvoudig net te sterk.
“Klim af!” gil Finkie kwaai.
“Julle maak my seer!” skreeu Missie met trane in haar oë.
“Nou wie gil en skreeu nou?” spot Germuis triomfantelik.
“Wat op deesaarde gaan hier aan?” vra Pappa Muis se kwaai stem skielik agter hulle. “Seuns, klim dadelik af van die meisies af!”
Germuis en Morné spring dadelik af. Hulle besef onmiddellik dit was glad nie mooi van hulle nie. Die meisies was bloot te slim vir hulle en het hulle uitoorlê.
Finkie en Missie begin kermhuil van kwaadgeid en die modder wat hul oë brand. “Ons het regverdig gespeel, Pappa! Die seuns kon net nie vat dat hulle verloor nie, toe begin hulle vuil speel!”
“Toemaar,” sus Pappa Muis. “Die seuns sal beslis moet opmaak vir hulle gedrag. Julle gaan nou almal huis toe om julle skoon te skrop. Daarna gaan die seuns julle twee bedien met koue koeldrank en van Tannie Muis se heerlike melktert. Terwyl julle meisies rustig sit en eet, sal die seuns julle vuil klere met die hand was, uitspoel and ophang. En ek wil geen teëpraat hoor nie. Het julle my gehoor, seuns?”
“Ja, Pa,” sê Germuis bedroef.
“Ja, Oom,” sê Morné met ’n klein stemmetjie.
“En wat het julle vir die meisies te sê?” vra Pappa Muis en kyk hulle stip aan.
“Jammer dat ons onregverdig gespeel het,” sê Germuis skuldig vir sy sussie.
“Ekskuus dat ons met julle baklei het. Dit was baie lelik van ons,” sê Morné vir Missie.
Finkie en Missie kyk na mekaar en vee die modder van hulle wange af. “Alles reg. Dalk sal julle volgende keer soos regte manne kan verloor.”
Net toe die seuns iets kwaads vir die meisies wil terugsnou, keer Pappa Muis hulle dadelik voor. “Kom, julle ma’s wag vir julle by die huis, en julle weet hulle gaan ook met julle almal raas oor hierdie vuil klere.”
Germuis en Morné loop sleepvoetend terug huis toe. Finkie en Missie loop egter vooruit en sing al te lekker oor hoe hulle gewen het en hoe die seuns verloor het. Pappa Muis kan nie help om stilweg te glimlag toe hy sien hoe die twee seuns dadelik hulle vingers diep in hulle ore druk nie. Dit moes vir hulle die ergste straf van alles gewees het om te hoor hoe die meisies spog!
By die huis aangekom, is Mamma Muis en Tannie Muis eers erg geskok oor hulle dogters se modderige toestand. Toe hulle egter hoor dat die seuns reeds gestraf is, sê Mamma Muis met ’n knipoog: “Ek dink nadat die seuns die meisies bedien het en al die wasgoed gewas het, kan die meisies weer as vergoeding die seuns met koeldrank en tert bedien.”
Finkie trek haar neus dadelik op en wou net begin stry, toe Missie haar vinnig aan die pootjie vat en sê: “Toemaar, Finkie. Ons het klaar gewen vandag. Ons kan maar soos ware, deftige dames die seuns bedien as hulle klaar gewerk het.”
Oom Muis sien die fyn, skelm glimlag op sy dogter se gesig en sê dadelik vermanend: “Missie, jy gaan beslis nie stilletjies sout of peper op die seuns se tert gooi nie, hoor!”
“Ai, Pa,” sug Missie met ’n vonkel in die oog. “Ons wou die seuns dan nog net so ’n ou klein poetsie gebak het!”
“Nee, Missie,” lag Oom Muis en skud sy kop. “Ek dink daar is meer as genoeg poetse gebak vir een dag. Gaan was julle nou almal sodat julle weer soos ons eie kinders kan lyk. Julle is darem al te vol modder.”
Mamma Muis het intussen twee groot baddens gaan uithaal en sommer baie seep in die warm water gegooi sodat dit lekker skuim. Die vier muisies hardloop gou om in hulle swembroeke te verklee, en toe spring hulle in! Hulle baljaar hulleself omtrent spierwit van die skuim en skrop mekaar mooi skoon in die seepwater.
Nadat almal weer blinkskoon gewas, ordentlik afgedroog en in hulle netjiese klere geklee is, is dit tyd vir die seuns om kelners te wees. Met lang gesigte bedien die twee seuns die meisies met die koeldrank en Tannie Muis se heerlike melktert, presies soos Pappa Muis gesê het. Finkie en Missie sit soos ware koninginne op die stoele en geniet elke liewe happie!
Hoofstuk Vyf: Vakansielesse en ’n Nuwe Vonkel
“Ai,” sug Finkie swaar en steun haar ken op haar pootjies. “Die vakansie is nou amptelik amper verby. Nog net môre, en dan begin die skole weer.”
“En hoekom sit en praat jy nou so hardop met jouself?” vra Germuis, wat skielik by sy sussie op die bed kom sit. “Is jy dalk siek, sus?”
“Ag, wat... ek is net glad nie lus vir skool nie.”
Germuis kyk haar verbaas aan. “Maar jy doen dan altyd so vreeslik goed op skool! Jy het baie maatjies, jy is gewild, en jy kook in sport. Hoe op deesaarde is dit dat jý nie skool toe wil gaan nie?”
“Die vakansie was net so spesiaal... en so vol avontuur,” sug Finkie en kyk treurig by die venster uit. “Skool is net leer en lesse.”
Germuis dink so ’n bietjie na en sê dan slim: “Ja, maar jy het ook baie lesse geleer hierdie vakansie. So, as jy mooi daaraan dink, kan skool dalk óók vol avontuur wees.”
Finkie sê niks nie, sy staar net uitdrukkingloos voor haar uit.
Germuis hou net mooi niks daarvan dat sy sussie so swartgallig lyk nie. Ervaring het hom geleer sy is altyd vrolik en vol energie, maar vandag lyk sy regtig asof haar hele wêreld vergaan het. Hy moet haar eenvoudig opbeur en laat lag! Germuis dink blitsvinnig aan ’n plan en begin skielik ritmies met sy pootjies op sy knieë tik.
Toe begin hy uit die bloute te rap:
“My suster
was gister
nog vrolik,
nie olik!
Vol avontuur,
met baie vuur!
Vandag lam,
niks vat vlam!
Geen gelag,
minder krag.
Sy staar,
dis raar!”
Germuis sien dat Finkie nog nie heeltemal ontspan nie, maar haar lippe begin darem al liggies na ’n glimlag lyk. Dit gee hom moed en hy besluit om harder te probeer.
Hierdie keer begin hy sing. Hy val sommer weg op ’n verskriklike, valse hoë noot:
“Finkie hou van vakansies,
sy groet die klein wit gansies!
Op ’n rooi fiets gery,
by die groot dam verby!”
Finkie se glimlag raak al groter. Germuis is so gelukkig sy sussie voel beter dat hy sommer ’n paar lawwe danspassies by sy tweede versie voeg:
“Ons het gaan visvang,
al was ons baie bang!
Pa en Ma was kwaad,
hard met ons gepraat!”
In die middel van die sing en die ingewikkelde danspassie raak Germuis se eie agterpote hopeloos deurmekaar. Hy struikel oor die mat en val so hard op sy sitvlak dat hy sommer hik!
Nou kan Finkie haar lag glad nie meer inhou nie. Sy skaterlag so hard dat Tannie Duif buite amper uit haar nessie tuimel van die skrik! Tannie Duif vlieg nuuskierig nader en kom sit regop op die vensterbank om te sien wat die verskriklike lawaai veroorsaak.
Germuis laat hom nie van koers af bring nie en spring dadelik op om weer te begin sing. Hierdie keer sing hy nóg valser as al die vorige kere:
“Ons het gaan stap
die Veldwinkel-pad!
Vakansielesse geleer,
ons...”
Verder kom Germuis egter nie, want selfs Tannie Duif begin nou behoorlik te koer van die lag.
“Ooh, my magie kry skoon seer! Moenie meer sing en dans nie, asseblief!” kreun Finkie terwyl sy haar sye vashou.
“Nou ja, wag nou, nou moet julle my maar behoorlik vertel wat hier aan die gang is,” sê Tannie Duif toe sy haar asem terugkry. “Oefen jy dalk vir ’n skoolkonsert, Germuis?”
Laggend vertel Finkie: “Tannie Duif, ek sit al heel oggend hier in my kamer en top oor die wonderlike vakansie wat verby is. Ek het vir Germuis vertel dat ek nie lus is vir skool nie, en hy wou my bloot opbeur met sy verskriklike, valse singery en dansery.”
“Wel, dit lyk asof dit perfek gewerk het. Jou ou bekende vonkel is weer terug in jou oë,” sê Tannie Duif met ’n vrolike knik.
“Ek stem!” sê Germuis. “Kan ons nou asseblief iets gaan doen voor hierdie laaste dag ook verby is?”
“Julle Kan nou-nou gaan speel,” keer Tannie Duif, “maar ek sal vreeslik graag wil hoor van hierdie 'vakansielesse' waarvan jy nou net gesing het. Het julle dan gegaan vir ekstra klasse by die skool? Moes julle eksamen skryf in die vakansie?”
“Nee, Tannie Duif,” verduidelik Finkie met ’n glimlag. “Die lesse was sommer dinge wat ons agtergekom het terwyl ons besig was met ons avonture.”
“Laat ek dink...” begin Finkie ernstig. “My eerste groot les was toe ek in die saalsakkie weggekruip het. Toe ek sien hoe vreeslik bang Mamma en Pappa was, het ek besef ek kan nie net wegloop sonder om te sê waar ek is nie. Dit laat die mense vir wie jy lief is se harte te groot skrik.”
“En ek het weer geleer dat vinnige lekkers nie die moeite werd is nie,” sê Germuis skaam en kyk vir ’n oomblik na sy tone. “Toe ek daardie lekkers sonder om te betaal by die Veldwinkel gevat het, het my hele maag gedraai van die skuldgevoel. Ek moes dit self gaan teruggee het en vir Pappa help sodat ek geld kan verdien om dit te betaal. Wat baie “cool” was, was dit Finkie saam my gewerk het. Toe leer ek dat ’n goeie sussie goud werd is.”
“Ons het ook geleer dat leuens ’n mens se hele lekker dag kan opvreet,” voeg Finkie by. “Onthou jy toe ons by die dam was en vir Mamma-hulle gesê het ons is by die stroompie? Die speletjie op die lelieblare saam met Pedro Padda was vreeslik bakgat, maar die oomblik toe ons huis toe kom en moes jok, was al die pret skielik weg. Dit voel baie beter as Mamma en Pappa jou kan vertrou.”
“Sjoe! Dit is darem baie waardevolle dinge wat julle agtergekom het. En dit alles net in een kort skoolvakansie!” sê Tannie Duif diep beïndruk.
“Ja... maar dit was beslis nie altyd lekker om daardie foute reg te maak nie,” erken Finkie eerlik.
“Finkie, ons moenie vergeet van die groot modder-les nie!” onthou Germuis skielik en kyk vir Tannie Duif. “Finkie en Missie het ons eendag baie slim van agter af met modderballe bestook onder by die stroompie. Toe ek en Morné verloor, het ons kwaad geword en hulle platgedruk. Ons moes as straf hulle vuil klere met die hand was terwyl húlle melktert eet! Ek dink ek het geleer om volgende keer maar eerder te lag as ’n meisie my uitoorlê.”
“Dit klink vir my of julle baie wyser geword het,” koer Tannie Duif met ’n knik van haar kop. “As ’n mens uit jou foute leer, is dit nooit vermorste tyd nie. Nou ja, mag julle heel laaste vakansiedag vol pret wees. Ek moet nou dringend vlieg om te gaan kyk wat my eie kroos in die nes aanvang.”
“Totsiens, Tannie Duif!” groet die twee muisies gelyktydig, terwyl die groot voël haar vlerke sprei en wegvlieg.
Germuis draai opgewonde na sy sussie toe. “Gaan jy nog hier sit en verlang na die vakansie, of gaan ons nou uiteindelik ’n laaste dag van pure plesier hê?” vra hy hoopvol.
Finkie spring van die bed af, haar oë blinker as ooit tevore. “Vakansie-avontuur, hier kom ons! En môre kyk ons watter avonture wag by die skool!” gil sy vrolik.
Hand aan hand hol sy en Germuis die kamer uit, gereed om die heel beste van hulle laaste dag te maak.
Laaste een wat hierdie storie lees, is ‘n vrot muis!
About the Competition
The Global Poetry and Creative Writing Competition 2026 by Hashtag Kalakar showcases diverse voices and talents from around the world. This prestigious platform celebrates the art of storytelling, providing writers with an opportunity to share their unique perspectives and literary creations. Participants explore a variety of themes, captivating audiences with their creativity and imagination.
We extend our heartfelt thanks to Barbara Geldenhuys for her captivating submission, "LAASTE EEN HUIS TOE IS ’N VROT MUIS!" in the Global Poetry and Creative Writing Competition 2026. Her charming portrayal of Finkie's adventures invites us into a world of imagination and delight. Thank you, Barbara, for sharing your artistry and contributing to the celebration of creative storytelling.
About Hashtag Kalakar
Hashtag Kalakar is a creative platform dedicated to providing artists, writers, singers and other creative talents with opportunities to showcase their work and reach wider audiences through competitions, features and creative initiatives.


Comments