top of page

Die Stoomrot - By Carin Kotze

21 hours ago
12 min read

Written By: Carin Kotze

Category: Short Story

Competition: Global Poetry and Creative Writing Competition 2026

Step into the vivid world crafted by Carin Kotze in her short story, "Die Stoomrot." As a participant in the Global Poetry and Creative Writing Competition 2026, Carin brings us a tale rich in steampunk aesthetics and personal ambition. Through her intricate narrative, she explores the theme of freedom and the relentless pursuit of dreams. Her work is a testament to the power of determination and the courage to defy societal expectations.

About the Work

"Die Stoomrot" is a narrative infused with the grit and steam of an alternative past. Carin Kotze's story is a celebration of resilience and ingenuity, portraying a world where vibrant characters navigate a landscape of mechanical wonders. The mood is both gritty and hopeful, capturing the protagonist's journey from a constrained life to one of self-determined adventure. The story's steampunk elements serve as a rich backdrop, highlighting themes of freedom and defiance.

Die Stoomrot

Original Submission by Carin Kotze

DIE STOOMROT

Carin Kotzé

Magriet Jacobs maak gereed vir werk. Sy voel uitasem en effe paniekerig toe al vyf gespes van haar korset vasgetrek is. Sy asem diep in, ontspan haar skouers en blaas haar asem stadig uit terwyl sy gedemp teenoor haarself kla: “Wie het besluit dat ’n korset so styf moet sit?”

***

Die kroeg, waar Magriet werk, is tussen ou fabrieke en rokende stoompype geleë. Bo die ingang hang ’n swaar meganiese ysterrat waarop die naam Die Ysterkwartier geverf is. Binne is dit skemer en rokerig met ou stoomtoerusting wat voortdurend suis en kreun. Gaslampe en olie-lanterns verlig die tafels.

In die middel van die vertrek staan ’n lang houttoonbank met koperkrane waaruit Koperbier en Ketelvuur getap word.

In die een hoek speel ’n musikant op ’n vreemde stoomaangedrewe musiekinstrument. Teen die muur hang ’n bord met die name van die jongste stoomkar- en motorfietsrenjaers.

Die Ysterkwartier is ’n plek waar stoomingenieurs, renjaers, handelaars, avonturiers en skelms langs dieselfde tafels sit.

Te midde van al hierdie chaos beweeg Magriet met ’n gelaaide skinkbord tussen die tafels deur. Sy is kalm, werk vinnig en haar vurige kyk sê: “Moenie met my mors nie. Ek kan met een hand ’n skinkbord vashou en met die ander ’n bakleiery stopsit.”

***

Magriet werk al jare lank by die Ysterkwartier. Elke aand verloop dieselfde: sy tap drankies, ontduik vuil grappies, glimlag wanneer dit van haar verwag word en luister hoe die manne spog oor hulle enjins, die resies wat hulle jaag en die plekke waar hulle deelneem. En elke aand wonder sy: Hoe sal dit voel om self agter die stuurwiel in te klim en net te jaag?

Sy is nie jaloers op die manne nie. Sy is jaloers op hul vryheid. Hulle bou karre, nuwe enjins, jaag resies en vaar die wêreld in.

Magriet is sat vir hulle grootpratery en dat hulle haar telkens onderskat.

“Magriet, nog twee Koperbiere!”

“Magriet, glimlag ’n bietjie.”

“Magriet, ’n vrou se plek is kaalvoet voor die stoof.”

Sy sit soms, na werk, alleen op die stoep. Sy hoor enjins in die verte op die renbaan brul. Sy smag na die wind wat teen haar gesig waai, die krag van die karre en die reuk van warm olie en stoom.

***

Vanaand hoor Magriet ’n gesprek wat haar lewe verander.

Vier renjaers sit by ’n tafel en gesels.

“Oor drie maande is daar ’n straatren,” sê ’n jong man met ’n muiserige gesig. “Die Kopermyl. Ek dink ek staan ’n goeie kans met my Stoomskip.”

’n Blondekop met skerp blou oë lag en sê: “Enige sot kan ’n vinniger kar uit die Ketelwerf se skroot bou as daai stuk gemors van jou!”

Muisgesig antwoord: “Regtig? Wys my. Bou jý hom.”

Magriet bedien hulle drank met ’n onderdrukte ingenome glimlag. Die skrootwerf, nogal. Dis dalk glad nie ’n slegte idee nie. Sou daar werklik genoeg onderdele en wrakstukke wees om ’n resieskar van te bou? Nou ja, sy sal gaan kyk. En sý sal dit bou. Goeie plan.

***

Daardie nag klim Magriet vir die eerste keer oor die Ketelwerf se heining. Sy het heelwat by haar pa geleer en geheime by die renjaers afgeluister, maar ’n kar bou...

Elke aand na middernag, gewapen met ‘n lantern en ’n sak gereedskap, gaps sy onderdele, stuk vir stuk, en sleep dit koes-koes huis toe met haar selfgeboude handkarretjie.

Sy vind twee silinders van ’n stoompomp; ’n drukmeter uit ’n lokomotief; koperpype op ’n hoop skroot; ’n agteras van ’n afgeskryfde afleweringswa; vier wiele wat nie oorspronklik aan dieselfde voertuig behoort het nie. Sy vind ook ’n ou ketel in ’n verlate fabriek.

***

Bedags werk Magriet in die kroeg, snags bou sy haar resieskar in ’n klein werkswinkel agter die Soutrivier-spoorwegwerkswinkel. Elke bout wat sy vasdraai, voel soos nog 'n stukkie van haar eie vryheid.

Die bouery begin rampspoedig. Drie koperpype lek toe sy die ketel aansteek. ’n Klep skiet los en die hele werkswinkel verdwyn in ’n wolk stoom.

En tog ... stadig maar seker, kry die gevaarte lewe.

Dit is nie mooi of aanskoulik of selfs vreeslik vaartbelyn nie. Dis rou, laag op die grond, swart en vol sweismerke en honderde klinknaels.

***

Na twee maande se min slaap, geheim hou, leer en hard werk, is dit tyd. Sal die wiele draai? Daaroor is Magriet glad nie seker nie.

Dit is lank ná middernag. Soutrivier is stil. Net ’n paar fabrieke werk snags. En Magriet probeer om haar kar aan die gang te kry. Eers skiet ’n pyp los. Daarna kry sy net ’n stoomwolk. Die derde keer gebeur daar net mooi niks.

Sy sien alles na en probeer weer, maak die brander oop en sien – met ’n jubelkreet – hoe die naald van die drukmeter stadig begin klim.

20... 30... 40...

Sy wil op en af spring toe die ketel lewe kry. Terwyl die metaal warm raak, maak dit ’n reëlmatige tik-tik-tik-geluid. Sy sien ’n dun wolkie stoom wat lek... mis gesweis. Ag nee.

Sy pers haar hande saam. “Bly tog net vanaand heel. Ek smeek jou.”

Die druk is genoeg. Sy klim in.

Die paneelbord is gehawend, net die allernodigste is daar. ’n Stuurwiel, ’n drukmeter, drie hefbome en ’n stuk tou wat net sy verstaan.

Sy trek versigtig aan die stoomhefboom.

TSSSSSSSJJJJ ...

Daar gebeur niks.

Magriet frons. Sug en trek die hefboom nog ’n entjie.

TSSSJJJ-KLAK.

Die kar ruk. Magriet se oë rek. Agter-in die kar, beweeg die dryfstang.

KLAK

KLAK... KLAK...

KLAK-KLAK-KLAK...

Die wiele draai effens. Dan staan alles weer stil.

Magriet is eers verstom, dan lag sy skril en skree: “UITEINDELIK!” Nou trek sy die hefboom met mening. WHOOOOOOSJ!

Die kar spring vorentoe. Magriet gryp die stuurwiel vas. ’n Emmer vlieg deur die lug. Die een wiel tref haar gereedskapkis, wat oopspat. Sy mis die werksbank met ’n paar duim. Gelukkig is die werkswinkel se deur oop. Die kar brul soos iets wat skielik vrygelaat is en vat die grondpad met mening.

Die ketel sis.

Die stoommasjien klak-klak-klak.

Die onderstel rammel soos ’n blik vol boute.

Daar is min remme.

Magriet lag uit volle bors.

Maar kan sy die ding stop? Hoekom het sy nie vroeër daaraan gedink nie? Sy kry dit uiteindelik tot stilstand binne-in ’n massiewe stoomwolk. Haar gesig is swart van die roet en haar hande bewe. Sy klim uit, kyk terug na die twee spore wat kronkel uit die werkswinkel. Sy besef... sy het nie meer ’n klomp gegapste skroot nie... sy het ’n renmotor.

***

“En dit?”

Haar pa staan in die deur van die werkswinkel. Hy kyk na die kar, die ketel en sy dogter...

Stilte.

Hy wys na die linkeragterwiel. “Daai wiel loop skeef.”

Magriet kyk. “Ek sien pa.”

Hendrik knik en stap weg. “Dan maak ons hom môre reg.”

Magriet glimlag. “Ons maak so, Pa.”

***

In die week voor die wedren doop Magriet die kar. “Stoomrot, dis jou naam. Ek het groot planne vir ons.”

By die werk poleer Magriet glase.

Sy luister ...

Die manne stry oor wie die vinnigste kar het. Wie Saterdagaand teen wie jaag. Watter straat hou die polisie dié week dop. Wie ’n nuwe stoomklep probeer het. Hoe Danny se ketel verlede week gebars het. Hoe om meer krag uit ’n stoommasjien te kry.

Twee renjaers praat oor ’n geheimsinnige nuwe stoomkar wat snags in die fabriekstrate getoets word.

Die een sê: “Ek weet nie wie dit gebou het nie, maar daai plat bliksem loop dat hy bars.”

***

Wanneer die fabrieksfluit, Saterdagaand om agtuur, blaas is dit tyd vir die Kopermyl. ’n Lelike swart renmotor kom dwars deur ’n fabriekshoek. Vonke spat onder die kar uit. Stoom blaas deur ’n pyp. Gaslanterns verlig die strate. Tafelberg lê afgeteken teen die maanlig, agter die fabriekskoorstene.

Wanneer Magriet uiteindelik by die beginpunt stop, kyk die tegniese inspekteur na die kar, dan na Magriet, dan weer na die kar. Hy kyk na die drukmeter, die koperpype en die stoomklep en sê: “Magriet... dit lyk verdomp baie soos my ketel.”

Magriet trek haar stofbril oor haar oë: “Dit kan nie wees nie. Jy verkoop stukkende parte. Hierdie een werk.”

Met haar eenvoudige helmet en stofbril, wag sy haar beurt af. Sy het ingeskryf in die Sewe-bar-stoomklas.

By die wegspringlyn sien Magriet haar teenstander. Hy ry met ’n enorme swart plat tweesilinderenjin wat ewe windgat BRAAP-BRAAP-BRAAP maak.

Magriet se stoomkar staan bewegingloos en die enigste geluid wat daaruit kom is: Tssssssssss...

En hier sit sy, in ’n tuisgeboude stoomkar, waarvan sy nog nie al die swakplekke ken nie. Daar is min stoomdruk. Sal sy dit maak?

Die vlag val. Die kar langsaan trek vinnig weg. Magriet trek die stoomhefboom. Die Stoomrot maak tsssjjj... klak... klak en kruip van die lyn af.

Die skare lag.

Halfpad deur die eerste rondte styg die druk. Stoomrot is uiteindelik wakker en Magriet begin haar opponent inhaal... dan skeur die stoomlyn by ’n swak las. Die kar kom tot stilstand.

Skaam en moedeloos sleep sy en haar pa die Stoomrot terug werkswinkel toe. In die verbygaan hoor sy haar opponent:

“Volgende Saterdag?”

Magriet kyk na haar probleem-kar. “As jy kan byhou.”

***

Die volgende dag is ’n marteling. Die gewone groep renjaers sit reeds by hulle tafel toe Magriet instap.

Peet vra: “Waar is jou kar, Magriet?”

Sy ignoreer hom.

Koos antwoord namens haar: “Te min stoom. Sy het dit nie tot hier gemaak nie.”

Die mans bars uit van die lag.

“Los dit nou. Daai kar is vinnig” sê iemand.

Peet knik. “Veral wanneer sy hom bult-af stoot.”

Magriet pak die glase op die toonbank.

“Magriet! My ketel lek. Kan ek asseblief jou stoompype leen?”

“Moenie simpel wees nie,” sê Peet. “Haar stoompype lek ook.”

Selfs die ander mense in die kroeg lag nou saam.

Magriet sit die laaste glas neer en stap nader. “Julle bekke is groot vir ’n klomp mans wat gisteraand deur ’n kroegmeisie ingehaal is.”

Peet wys met sy vinger. “Jy het mý nie ingehaal nie.”

Magriet glimlag. “Nee. Jy was reeds teen die muur.”

Nou lag almal vir Peet.

En Magriet besef... dit gaan ’n baie lang week wees.

Magriet is besig om die laaste glase af te vee wanneer Peet ’n koperveiligheidsklep op die toonbank neersit. Hy sê nie ’n woord nie.

Sy kyk eers na die klep, dan na Peet se rug terwyl hy by die deur uitstap.

Met vraagtekens in haar oë, tel sy die klep op en draai dit tussen haar vingers.

Sy kyk na die deur, en wéér na die klep.

Magriet fluister: “Wat de duiwel het jy vir my gelos, Peet?”

***

Na werk, sluit Magriet by haar pa in die werkswinkel aan. Sy is nog vies oor die gespot in die kroeg.

Hendrik vra: “Wat het hulle gesê?”

“Dis nie belangrik nie.”

“Hoe ook al. Dan maak ons seker dat hulle volgende week minder het om oor te praat.”

Hulle haal die kar byna heeltemal uitmekaar, maak haar nie heel nie, maar betroubaar. Hendrik maak die linkeragterwiel reguit en sweis die lek toe. Hy wys na die veiligheidsklep.

Dadelik keer Magriet. “Ons gebruik hom nie.”

“Hoekom nie.”

“Want dis Peet s’n.”

Hendrik lig sy bril tot op sy voorkop. “Magriet. Die ketel weet nie wie se parte ons gebruik nie.”

Teen drie-uur die oggend staan Stoomrot weer op haar wiele. Sy lyk steeds verskriklik. Swart plaatmetaal, koperpype en klinknaels oral.

Magriet maak die brander oop. Die druk klim. Sy trek die hefboom.

TSSSSJJJ...

Klok-klok-klok-klok...

Geen lek nie. Die naald van die drukmeter bly konstant.

Magriet glimlag. “Pa? Gaan sy vinniger wees?”

Hendrik kyk na die kar. “Nee.”

Magriet se voorkop verkreukel.

Hy tel sy gereedskap op. “Ek dink sy gaan klaar maak.”

Magriet het net een wens: Begin met ’n groen vlag, eindig met ’n geruite vlag.

***

Saterdag jaag hulle in groepe van ses in die Ysterkring.

Hendrik loop om die Stoomrot. Hy inspekteer elke moer, pyp en wiel.

Magriet se senuwees stoom.

Die mans sien haar. “Magriet, tafel ses wag nog vir hulle Ketelvuur!”

Sy trek haar stofbril af oor haar oë.

“Moenie bekommerd wees nie, ons het ’n ketel water gekook vir wanneer jy halfpad droogloop!”

Sy klim in die kar. “Lag maar. Vanaand sal ek klaarmaak.”

Die vlagman lig sy arm. Langs haar staan Peet. Hulle kyk na mekaar.

Die vlag val. Magriet trek die hefboom.

TSSJJJ – KLAK-KLAK-KLAK-KLAK!

Stoomrot beweeg. Geen huiwering of gesukkel. Binne die kar is daar net die geluide van stoom, ratwerk, wiele en Magriet se asem. By die eerste draai, rem sy effens. Die agterkant begin gly.

Haar pa se stem klink in haar kop: “Moenie baklei nie. Laat haar loop. Vang haar wanneer sy besluit het waarheen sy wil gaan.”

Sy draai in, die kar kom terug, mooi reguit.

Voor haar is Koos se rooi kar. Sy kom nader. Hy kyk oor sy skouer. Sy trek die stoomhefboom nog ’n entjie. Sy jaag tot langs Koos. Stoomrot klink soos ’n fabriek wat teen ’n berg afval. Sy gaan verby. Sy vang nog ’n kar en nog een. Gaan dié ook verby.

Dan sien sy vir Peet voor haar. Sy kom nader. Hy hou die binnekant toe. Magriet probeer buite-om. Hy skuif soontoe.

“Jou bliksem!” Toe hoor sy dit. Tik ...

Sy kyk na die meters. Die druk, water en temperatuur is goed. Die tik raak tik-tik. Die stuur voel anders. Daar is net drie rondtes oor. Peet kom nader. Hy trek langs haar in en wys na haar voorwiel. Sy skud haar kop. Hy wys weer. Sy wys vir hom ’n vinger wat haar pa beslis nie sou goedkeur nie en Peet gaan verby.

Deur elke draai ruk die stuurwiel uit haar hande. Sy klou stywer vas. Nog net een rondte. Sy is vierde. Dis die laaste draai. Die linkerwiel begin slinger. Sy klou met albei hande.

Vyftig tree... dertig... twintig. Die geruite vlag waai. “Vierde!” gil sy.

Stoomrot kom tot stilstand. Sy kyk terug. Sy het dit gemaak. Die groen vlag en die geruite vlag.

Peet stop langs haar.

“Is jy mal?”

Sy trek haar stofbril op. “Vierde!”

“Jou wiel het amper afgekom.”

“Maar hy het nie.”

Haar pa kom nader. “Het jy die getik gehoor?”

“Watter getik?”

Sy weet... môre is die mans by die kroeg, die minste van haar probleme.

***

Magriet se laaste wedren vind ’n paar jaar later plaas.

Sy is nie meer die grap van die kroeg nie. Hulle noem haar Magriet Stoomduiwel du Plessis. Sy het deur die jare gewen en verloor. Peet is steeds haar grootste opponent.

Stoomrot is oud.

“Dit is die laaste resies, Pa.” ppp

Dit reën. Die strate blink onder lanterns. Stoom hang laag oor die baan.

Stoomrot is nie meer die vinnigste nie.

Die vlag val. Sy begin sesde.

Vyfde.

Vierde.

Peet is voor haar.

Magriet kom tot langs Peet. Sy uitoorlê hom in ’n draai. Die Stoomrot se

keteldruk val stadig. Dié ou meisie is moeg. Magriet kan harder probeer. Sy sien die voorste kar, weet Peet is agter haar.

Vir die eerste keer doen Magriet iets wat jong Magriet nooit sou doen nie. Sy trek die stoomhefboom terug. Piet gaan verby. En sy eindig derde.

Magriet maak die stoom toe. Die ou masjien stop. Sy klim uit en sit haar hand op die warm ketel.

“Dankie, meisie.”

***

Die volgende dag staan Stoomrot voor die kroeg met n bordjie.

NIE TE KOOP NIE

Die mans spot soos altyd.

Peet sê: “Niemand wil haar koop nie.”

Magriet antwoord: “Niemand het jou gevra nie.”

***

Jare gaan verby. Die fabrieke verander. Straatrenne word verbied. Petrolmotors neem

oor. Die Ysterkring sluit permanent.

‘n Jong seun en sy oupa stap deur ’n museum in Kaapstad met lokomotiewe, ou

gereedskap en foto’s van fabrieke. Ook ’n gehawende swart stoomkar. Die koper is dof, verf is gekrap en een voorwiel sit skeef. Op die neus is die woord Stoomrot geverf.

Op die bordjie langsaan staan:

MAGRIET STOOMDUIWEL

Gebou uit afvalonderdele. Renjaer: Magriet du Plessis

Die seuntjie kyk na sy oupa. “Was sy regtig vinnig?”

Die ou man glimlag. “Party aande.”

“Het sy baie gewen?”

“Nie soveel soos die stories sê nie.”

“Hoekom onthou almal haar dan?”

“Omdat sy opgedaag het toe almal gesê het sy hoort nie daar nie.”

Vasgemaak aan die stuurwiel is Magriet se ou, gekrapte stofbril met ’n handgeskrewe briefie.

Net drie woorde staan daarop:

BOU JOU EIE!

About the Competition

The Global Poetry and Creative Writing Competition 2026 by Hashtag Kalakar is a prestigious event celebrating the art of written expression. It provides a platform for writers from around the globe to showcase their creativity and share their unique voices. This competition is a celebration of diverse narratives and styles, inviting participants to push the boundaries of storytelling.

We extend our heartfelt thanks to Carin Kotze for her evocative short story, "Die Stoomrot." Her participation in the Global Poetry and Creative Writing Competition 2026 adds depth and richness to the event. We are grateful for her contribution and look forward to more of her inspiring work in the future.

About Hashtag Kalakar

Hashtag Kalakar is a creative platform dedicated to providing artists, writers, singers and other creative talents with opportunities to showcase their work and reach wider audiences through competitions, features and creative initiatives.

 
 
 

Recent Posts

See All
IT'S ALWAYS BEEN YOU - By Aaliyah Reese Nadar

Written By: Aaliyah Reese Nadar Category: Poetry Competition: Global Poetry and Creative Writing Competition 2026 Aaliyah Reese Nadar graces the Global Poetry and Creative Writing Competition 2026 wi

 
 
 
I did love you once - By Nicole Rodrigues Bothma

Written By: Nicole Rodrigues Bothma Category: Poetry Competition: Global Poetry and Creative Writing Competition 2026 Nicole Rodrigues Bothma's poignant poem "I did love you once" is a captivating en

 
 
 
Wind - By Nicole Rodrigues Bothma

Written By: Nicole Rodrigues Bothma Category: Poetry Competition: Global Poetry and Creative Writing Competition 2026 In the Global Poetry and Creative Writing Competition 2026, Nicole Rodrigues Both

 
 
 

Comments

Rated 0 out of 5 stars.
No ratings yet

Add a rating
bottom of page