top of page

Saartjie se Seer - By Marie Corker

2 days ago
42 min read

Written By: Marie Corker

Category: Short Story (Afrikaans)

Competition: Global Poetry and Creative Writing Competition 2026

Marie Corker, writing as Saartjie se seer, presents her compelling Afrikaans short story "Saartjie se Seer" in the prestigious Global Poetry and Creative Writing Competition 2026. This narrative, falling under the Short Story category, intricately weaves a tale of personal redemption and the indomitable human spirit. The competition, renowned for attracting diverse voices from around the globe, serves as an ideal platform for Corker to share her poignant exploration of resilience and human connection through the lives of her characters.

About the Work

"Saartjie se Seer" navigates the complexities of human relationships and personal healing. Through vivid storytelling and rich character development, Marie Corker immerses readers in a world where past traumas intersect with present-day struggles for redemption. The narrative is imbued with a sense of hope and renewal, as the characters confront their pasts and strive for a brighter future. The story’s emotional depth and engaging style make it a memorable read.

Saartjie se seer

Original Submission by Marie Corker

Saartjie se Seer

Geskryf deur: M E Corker

Hoofstuk 1

Bakkies

“Dis huis nommer 32, die een met die twee sement pilare voor,” sê Mnr Alwyn. “Bel een keer binne toe, as die hek oopsluit, gaan in en sit die sakke op die trappie neer. Klop drie keer aan die deur dan draai jy terug en maak seker dat die hek reg toe is voor jy wegloop. Moet nie eers daaraan dink om te wag nadat jy geklop het nie. Ek waarsku jou, as jy een voet verkeerd sit, is jy op die straat.”

Bakkies kyk na Meneer Alwyn se kwaai gesig, sy skouers styf opgetrek terwyl hy die reëls voorskryf. Bakkies weet hy moet lig loop hier. Dit is wragtig die laaste kans wat hy het. Hy het al sy ander brûe lankal verbrand in hierdie dorp.

Op die jonge ouderdom van agt en twintig, het Bakkies nog niks om te bewys vir sy lewe nie.

“ ‘n luigat! nikswerd! ‘n teleurstelling!” dis al die name wat sy ma hom nou sou genoem het. Sy ma, wat so hard haar hele lewe moes werk, deur reen en wind moes opstaan, vyfuur die oggend uit die huis, sewe uur die aand eers terug, net sodat hulle elke aand ‘n stukkie brood het om te eet.

Maar soos sy Ma altyd sê, hy aard na sy Pa. ‘n Groter luiaard as Bakkies. Hy het nog nie een volle dag in sy lewe gewerk nie. Die geld wat Ma inbring, moes brood koop, die ligte aanhou en ‘n paar sente vir die bus. Die res het hy uitgesuip. Elke Vrydag, sodra Ma by die huis ingestap het, het hy haar afgewag. Sy was al slim genoeg om die brood, ‘n paar kos stukkies en elektrisiteit op pad huis toe te koop. En elke Vrydag moes sy ‘n pak slae verduur omdat sy te min geld vir drank gebring het.

Bakkies kon nooit verstaan hoekom sy Ma nog al die jare gebly het nie. Hoekom het sy verkies om so te lewe? Dinge kon so anders gewees het as sy hom gelos het, Bakkies het al twee keer teen sy Pa probeer opstaan. Die eerste keer was hy net twaalf jaar oud. Sy pa het sy Ma geslaan dat haar kop teen die kas in die kamer stamp. Bakkies kon die stamp in sy kamer hoor. Die woede het hom so oorheers dat hy blindelings by hulle kamer ingestorm het en sy Pa met sy vuiste probeer bykom het. Daardie dag was Bakkies so geslaan dat hy nie sy kop by die deur kon uitsit vir die hele naweek nie.

Die tweede en laaste keer dat Bakkies probeer intree het, was toe hy sestien was. Die keer het sy Pa hom so geslaan dat hy in die hospitaal beland het. Sy Ma het die dokter vertel dat hy aangerand was deur ‘n groep skollies toe hy oppad winkel toe was. Toe hy uit die hospitaal ontslaan was, het Bakkies reguit strate toe gegaan. Hy het sy Ma, sy huis, sy skool, net so gelos en nie weer terug gekyk nie.

Van dorp tot dorp het hy geswerf, altyd met die verkeerde mense deurmekaar geraak. Sy tuiste was die straat, deur winter en somer moes hy deurdruk, die koue van die winter het tot in sy bene gekou, sy lippe blou gelaat, maar die ergste van alles, was die hongerte. Dis honger wat hom daartoe gedryf het dat hy moes steel, net om ‘n stukkie kos in sy maag te kry, dwelms moes gebruik - om te vergeet wanneer hy nie genoeg bymekaar kon skraap nie en sy vuiste moes gebruik wanneer sy enigste bietjie kos bedreig was deur ouens wat langer as hy op die straat was. En elke keer as dinge bietjie te erg word, moes hy maar oppak en ‘n ander dorp nader.

Hierdie is nou sy vyfde dorp, Worcester, baie vêr weg van sy ouerhuis in Sandringham Straat, Namakwaland. Hierdie is ook die eerste dorp waar hy eintlik ñ werk en ñ slaapplek (al is dit in die agsterste kamer van Meneer Alwyn se winkel) gekry het. Hier het hy nou elke dag iets om te eet en ‘n slaapplek met n warm kombers. Hy is baie dankbaar hiervoor. Die laaste tyd in die tronk het hom laat besluit dat hy sy lewe sal moet verander, dat hy meer verantwoordelik teenoor homself moet optree en dat net hy, sy toekoms kan verander. Die intense program wat hy in die tronk deurgeloop het, het hom gehelp om die dwelms te los en ook om hierdie werk by Meneer Alwyn te kry, Hy kan dit nie opmors nie.

HOOFSTUK TWEE

Meneer Alwyn

Meneer Alwyn kyk vir Bakkies lank agterna toe hy wegloop. Hy draai terug na sy winkel terwyl hy saggies sy kop skud. Hy hoop die kind luister na wat hy gesê het. Hy wil nie graag hê dat hy sy werk moet verloor nie. Vandat Bakkies daar kom werk het, het dinge bietjie meer positief verander. Hy is baie lief vir skoonmaak en die vloer, vensters en rakke, blink beeldskoon nadat hy daardeur geloop het. Selfs tannie Magda, wat haar neus vir alles en nog wat optrek, kon nie anders as om hom te prys oor die skoon toestand van die winkel nie.

Meneer Alwyn loop nou ook hier duskant sestig en al die jare van vroeg opstaan om die winkel oop te maak, die markie te besoek vir vars groente en vrugte, en die skoonmaak elke dag, werk deesdae aan sy rug en knieë. Hy kan nie meer so lekker by die hoë rakke uitkom om skoon te maak of te pak nie en ook nie by die laë rakke waar hy op sy knieë moet gaan om te pak nie. Met Bakkies hier maak dit dinge net so maklik. Ai, as Bakkies tog net nie opmors nie! Hy sal dit aan niemand erken nie, maar hy het tog lief kom word vir hierdie seunskind.

Bakkies is nou dieselfde ouderdom as wat sy seun sou gewees het, dink meneer Alwyn. Klein Dolfie was maar net ses toe daardie noodlottige ongeluk gebeur het. Hoe kon hy weet dat Dolfie op die laaste oomblik sy hand sou los en vinnig agter ‘n bal sou aanhardloop wat oor die heining van een van die huise geskop was. Hy het nog na Dolfie geskree en gegryp maar die kleintjie was so vinnig en nog voor hy sy oë kon uitvee, hoor hy net die stamp. Dis n geluid wat hy die res van sy lewe nooit sal vergeet nie. Hy het net daar in die straat plat gaan sit met Dolfie in sy arms. Die bloed het oor sy voorkop geloop en sy ogies was styf toe. Toe hy sy oor teen sy hartjie druk, was daar geen geluid nie. Dit het die ambulans en polisie mense ‘n geruime tyd geneem om sy kind uit sy arms te kry.

Meneer Alwyn gaan sit op die stoel agter die toonbank met sy kop in sy hande. Die ongeluk het nie net sy seuntjie van hom af wegeneem nie, dit het sy hart uit sy borskas geruk, hy het sy winkel en sy huwelik amper verloor. Dit het baie gekos om weer sy voete te vind. Met die help van die dokter en sy vrou wat hom bygestaan het, het hy geleer om vrede te maak met wat gebeur het. As hy daaraan dink, was hy so amper ook ‘n dwelmverslaafde, alkoholis of tronkvoel. Hy was so naby daaraan om alles te verloor. Miskien is dit ook nog ‘n rede waarom hy so ‘n sagte plekkie het vir Bakkies. Hy weet wat dit kos om te verhoed dat die lewe jou insluk.

Ja, dink meneer Alwyn. Die seer hou nie op nie. Al maak mens vrede, die seer bly klou. Toe kom die ander seer, die een wat sy vrou ook wegneem. Hulle noem dit Kanker. “Aggressief,” sê hulle. “Geen hoop nie,” sê hulle. Moet haar maar rustig hou vir die laaste paar dae. En toe is sy ook weg. Hierdie keer kon hy dit maak op sy eie, ook maar net-net. Dis toe dat Meneer Johannes van die Brandvlei tronk hom nader om te help met jong mans wat uit die sisteem vrygelaat word. Hy moes soos ‘n “Big Brother” optree en hulle help om net hulle voete te vind. Hy het deur vyf outjies gegaan voordat hy vir Bakkies ontmoet het. Uit die staanspoor kon hy sien dat hierdie jong man anders is. Behalwe die feit dat hy nie werk gehad het nie, het hy ook nie verblyf gehad nie. Meneer Alwyn kan nou nog nie verstaan hoekom hy daaraan gedink het om nie net vir Bakkies ‘n werk te gee nie, maar om hom met verblyf ook te verskaf.

Sover verloop alles nog goed. Maar nou stuur hy vir Bakkies na Saartjie Nel se huis toe. Hy druk weer sy kop in sy hande, en hierdie keer bid hy saggies dat Bakkies asseblief net sal doen soos hy gevra was.

HOOFSTUK DRIE

SAARTJIE

Versigtig skuif sy die gordyn op ‘n skrefie en kyk na die man wat by die hek uitloop. Hy het die klokkie gelui, hy het drie keer aan die deur geklop. Hy het die sakkies op die stoep gesit en uitgestap, net soos altyd. Maar hierdie keer is dit nie Meneer Alwyn nie. Dis iemand anders. Haar hart klop sommer vinniger en haar naels wat al kort gekou is, gaan weer na die mond. Wie is hierdie vreemdeling? Hoekom is hy die een wat haar inkopies aflewer? Meneer Alwyn weet dan dis net hy wat moet aflewer. Hulle het dan ‘n ooreenkoms.

Haar hele liggaam begin bewe en al weet sy dat die man al klaar weg is, kan sy haarself nie kry om die sakkies by die deur te gaan haal nie.

Sy skrik so, dat haar skouers ruk, toe die telefoon lui. Wie kan dit wees? Daar is net twee mense wat haar nommer het. Meneer Alwyn en Libbie. Libbie kom elke tweede dag om te kyk of sy oukei is. Sy help ook bietjie met die skoonmaak en maak seker dat al die venster knippies en deur handvatsels werk. Versigtig tel sy die telefoon op.

“Hello,” sê sy saggies.

“Saartjie? Dis Meneer Alwyn hier. Ek wou net weet of ek die regte goed gestuur het soos wat jy bestel het. Ek’s jammer ek kon nie self vandag aflewer nie.

Saartjie bly vir ‘n lang tyd stil.

“Wie is die man?” vra sy bewerig.

“Dis Bakkies,” Se Mnr Alwyn. “Hy werk nou al ‘n geruime tyd hier by die winkel. Het iets gebeur? Is jy oukei?”

Saartjie voel bietjie self bewus dat sy so angstig is vir alles om haar. Sy weet Mnr Alwyn bedoel goed en dat hy nie iets sal doen as hy weet dit nie in haar belang is nie.

“Al..Alles is reg,” sê sy huiwerig. “Ek het net bietjie geskrik toe ek die vreemdeling sien. Ek het nog nie tyd gehad om na die inkopies te kyk nie maar ek is seker alles is in die haak.”

“Saartjie,” se Mnr Alwyn. “Ek gaan van nou af vir Bakkies elke keer met die inkopies stuur. Ek kan nie meer bekostig om die winkel so alleen te los nie. Ek hoop nie jy gee om nie, maar as dit jou nie pas nie, sal ek ‘n plan maak en die goedjies self kom aflewer.”

Saartjie voel onmiddellik skuldig. Mnr Alwyn en sy winkel beteken so baie vir hierdie dorp en sy mense. Hoe kan sy so selfsugtig wees en hom sy besigheid laat staan net om haar inkopies te bring.

“As Meneer Alwyn dink dat hy ‘n goeie man is, kan Meneer hom maar stuur. Hy moet net die inkopies los en weer gaan, asseblief Meneer Alwyn, laat hom dit tog net verstaan.”

Na die oproep, kyk sy weer eenkeer by die venster uit en nadat sy seker gemaak het, dat alles veilig is, gaan sy na die voordeur, maak dit vinnig oop en gryp die inkopies voor sy weer die deur toesluit.

Terwyl sy die inkopies uitpak, dink sy dat sy vir Libbie moet vra om te gaan kyk wie hierdie Bakkies is. Sy sal meer tevrede voel as Libbie self met hom kennis gemaak het.

Saartjie sug swaar, dis nou al drie jaar dat sy so toegesluit is agter slot en grendel, met net Libbie en Meneer Alwyn vir geselskap. Nie dat sy baie met Meneer Alwyn gesels nie, dis meestal oor die inkopies en die weer.

Libbie, inteendeel, is haar vriendin van kollege dae af. Dis Libbie wat haar deur die donkerste dae van haar lewe ondersteun het. Dis deur Libbie dat sy hier op Worcester beland het. En dis net Libbie wat verstaan hoekom sy haar lewe so verkies. Sy sidder as sy dink wat sou gebeur het as Libbie nie aan haar sy was nie.

HOOFSTUK VIER

LIBBIE

Dit was so teen nege uur die aand toe Libbie die oproep ontvang het. Sy was nog besig om aan n taak te werk. As iemand haar nou moes vra watter taak dit was, sou sy nie kon antwoord nie, dis asof daardie dag begin en geëindig het, met nege uur.

Toe sy Saartjie se gesig by die nommer op haar screen sien, het sy breed geglimlag en haar voorberei om vir ‘n uur of meer elle lange geselskap te hou oor niks wat saak maak nie.

Sy was dus nie voorbereid vir die twee woordtjies wat in n koggel geluid oor die foon gekom het nie.

“Libbie, help!”

Sonder om te dink het sy haar motor sleutels gegryp en by die deur uitgejaag. Haar pa, wat in die tuin besig was, word geskree om saam in die motor te spring.

Die prentjie wat sy by Saartjie se huis gekry het, sal sy seker nooit uit haar verstand kry nie. Dis die prentjie wat haar nou nog sommige aande wakker hou.

Die deur was halfpad oop, sy het liggies verder oop gemaak en is gegroet met meubels wat om gelê het, ñ prent het op die vloer gelê, maar die barbaarste van alles, was die bloed teen die mure. Libbie kan nie dink hoe sy sonder haar pa deur die episode sou gekom het nie. Hy het onmiddellik voor haar uitgegaan en oor en oor na Saartjie geroep. Vir ñ lang ruk was dit stil…en toe kom daar ñ sagte kreun geluid van agter die kombuis deur.

,

Saartjie, geklee in net ñ japon, het op die vloer gelê. Daar was so baie bloed, Libbie kon nie sien waar dit vandaan kom nie. Sy het Saartjie in haar arms opgeraap en daar op die vloer gesit terwyl haar pa die ambulans en polisie bel. Vir meer as ñ week het sy dag en nag in die hospitaal-kamer met Saartjie spandeer. Die dokters het geveg om haar aan die lewe te hou en Libbie het maar stilletjies gebed na gebed opgestuur.

Toe Saartjie uiteindelik oor die ergste gekom het, kon sy vertel wat gebeur het. Sy het die middag die verhouding tussen haar en haar verloofde beëindig nadat sy hom met ñ ander vrou in die bed, in hulle huis betrap het. Hy het kwaad geword en uitgestap. Later het hy weer teruggekom en net toe sy by die stort uitstap, val hy haar aan. Sy is meer as twintig keer met n mes gesteek en het n lang sny aan haar gesig opgedoen. Sy woorde aan haar was, niemand sal haar wil he as sy lelik is nie.

Vir twee maande het Saartjie in angs geleef terwyl hy op vlug was. Alhoewel sy by Libbie hulle ingetrek het, kon sy nie die vrees dat hy terug sou kom, uit haar kry nie. Selfs toe hy uiteindelik vasgetrek is, kon sy nie van die vrees ontslae raak nie.

Die jaar wat daarop gevolg het was uitmergelend. Saartjie moes n paar keer in die hof voorkom om getuienis af te lê. Libbie het gedink dat Saartjie in daardie tyd van haar verstand sou afgaan, maar dit was asof ñ liggie in Saartjie se brein afgesit was. Alles wat sy gedoen het en gesê het, was met robotiese bewegings uitgevoer.

Net n paar dae na die saak uiteindelik afgehandel was, is Libbie n permanente pos aangebied by die primêre skool op Worcester. Saartjie, wat permanent van die huis af werk, het saam met haar vertrek en tot Libbie se verbasing het sy na n maand in haar eie huisie ingetrek. Die huisie is nou wel omring met hoe veiligheidshekke en ñ alarm stelsel wat skrik vir niks, en al verlaat Saartjie nooit die huis op haar eie nie, is sy darem ñ hele ent beter as wat sy was.

HOOFSTUK VYF

BAKKIES SE BELOFTE

Saggies maak Bakkies die hek toe en loop na sy fiets. Voor hy ry, gee hy net een vinnige kyk na die venster. Hy sien hoe die gordyn saggies beweeg en vir ‘n kort oomblik sien hy die silhouete van ‘n persoon.

Hy kan nie help om te wonder waaroor al hierdie geheimsinnigheid gaan nie, maar hy het Meneer Alwyn belowe dat hy nie ‘n voet verkeerd sal sit nie. Terwyl hy ry, dink hy aan Meneer Alwyn wat so goed is vir hom. Meneer het hom ingeneem en werk gegee al het hy geweet dat Bakkies in die tronk was vir diefstal en dwelm misbruik en nie een keer het hy hom laat voel dat hy dopgehou of waantrou word nie.

Die kamer waarin hy slaap is klein, dis eintlik ‘n stoorkamer maar daar is genoeg plek vir ’n bed, ‘n kassie, ‘n klein tafel met ‘n stoel en ‘n klein spieëltjie teen die muur. Dis die naaste wat Bakkies nog ooit aan ñ huis gekom het vandat hy uit Namakwaland weg is. Die kamer is warm en daar is ñ klein venstertjie wat op die Langeberg reeks uitkyk. Die prentjie wat hy elke oggend sien, is sy belofte dat God hom nie verlaat het nie. Dis hierdie prentjie wat hom laat kleef aan die mooi kant van die lewe.

Om Meneer te bewys hoe dankbaar hy is vir dit wat hy gegee was, maak Bakkies seker dat hy baie hard werk. Hy hou van skoonmaak, hy het in die tronk geleer hoe om te skrop en polish dat die vloere blink. Die toilette was ‘n nagmerrie, maar ook hier het hy geleer hoe om skoon te maak. Dus hou hy die winkel baie skoon en netjies. Die vloere blink, die rakke is skoon en die goed is uigestal asof die winkeljie een van die groot dorp se winkels was. Hy maak seker dat daar niks op die rakke is wat verby die verval datum is nie, en vrugte of groente wat te lank staan, neem hy en gee dit vir die laaities wat bo by die hoek staan.

Meneer hou nie eintlik daarvan dat hy met die laaities geselskap hou nie, maar Bakkies bly nie lank met hulle nie. Hy lewer net af, dan gaan hy weer, Hy weet mos hoe dit voel om honger te wees. Meneer, inteendeel, is bang dat die groepies op sy winkelstoep sal kom staan en sy kliënte sodoende wegjaag, Bakkies maak dus seker dat hulle goed verstaan dat hulle nie naby die winkel moet kom nie. Die laaities is ook in elk geval bang vir Bakkies want hulle weet dat hy in die tronk was en hulle weet ook hoe hy vir Piet Snor bygekom het toe hy by die winkel probeer inbreek het. So hulle loop maar ligvoet om Bakkies.

Toe Bakkies uiteindelik by die winkel aankom sien hy hoe Mevrou Bester met ‘n glimlag op haar gesig uitstap. Sy sien vir Bakkies en lig haar hand om vir hom te waai. Sy is definitief beïndruk met wat in die winkel aangaan. Met blye gemoed stap Bakkies binne en pyl reguit op Meeneer Alwyn af. Hy gooi sy arms om Meneer se skouers, gee hom ‘n harde drukkie en met die trane wat baie vlak in sy oe sit, se hy “Dankie Meneer.”

Hy draai dan vinnig om en loop na die verste kant van die winkel sodat Meneer nie kan sien hoe die trane stadig begin afrol by sy wange nie.

Meneer Alwyn is so uit die veld geslaan, hy kan nie woorde uitkry om aan Bakkies te sê nie. “Waaroor gaan dit?”, dink hy by homself. Al het Bakkies dit probeer wegsteek, kon hy sien hoe na aan trane hy was. Meneer gaan sit agter die toonbank en dink diep aan wat gebeur het. Na ‘n lang ruk staan hy op en stap na Bakkies.

“Daar is ‘n oop kamer in die huis, niemand bly daarin nie. Dis joune as jy by ‘n stokou man wil bly.”

Bakkies kyk na Meneer Alwyn. Het hy reg gehoor? Het Meneer hom ‘n kamer in sy huis aangebied? Meneer Alwyn lyk ongemaklik, Bakkies voel ongemaklik.

“Dankie Meneer,” sê hy. “Baie dankie.”

Die kamer is darem groter as die stoor en jy hoef nie te ver te loop vir die toilet nie. Ek maak net nie elke aand kos nie en jy moet jou kamer netjies hou, en noem my oom Buks” stamel Meneer Alwyn, dan draai hy om en loop terug na die toonbank om ‘n klient te help.

Bakkies staan hom en agterna kyk, sy mond hang nog oop en sy brein sukkel om te verwerk wat gebeur het. Vannand slaap hy op ‘n rege bed, in ‘n regte kamer, in ‘n regte huis- met ‘n toilet wat nie vêr is nie.

Stilletjies draai hy om, loop na sy kamer, die stoorkamer agter in die winkel. Hy kyk uit oor die Langeberg en fluister, “Dankie Liewe Heer, ek sal nie opmors nie.”

HOOFSTUK SES

DINGE VERANDER

Meneer Alwyn kyk skelmpies na Bakkies wat na sy kamer terug loop. Hy weet nie wat hom besiel het om Bakkies te nooi om in sy huis te bly nie. Dis die drukkie wat hom so onkant gevang het. Maar as hy daaraan dink, sal dit tog lekker wees om iemand weer in die huis te he. Dis nou al meer as vyf jaar dat die huis so stil is.

Vir die volgende paar dae verloop alles goed. Bakkies is sommer baie netjies en sy hande staan vir niks verkeerd nie. In die oggend as meneer Alwyn by die kombuis instap, is die tafel gedek met vars koffie, rooster brood, eiers en spek of wors wat Bakkies self gekoop het.

By die winkel, is dinge ook anders. Bakkies begin meer werkies oorneem, hy help die kliënte en gesels sommer lekker met hulle terwyl hy besig is. Meneer Alwyn let ook op dat sy winkel meer besig is as ooit tevore.

Dis weer afleweringsdag en die inkopies staan al reg om te gaan. Meneer Alwyn kyk na Bakkies wat buite die boks op sy fiets regmaak. Hy neem die inkopies na hom toe en sê weer, “Onthou, lui die klokkie, klop drie keer aan die deur en los die sakkies op die stoep. Maak seker die hek is toe voor jy loop.”

Bakkies doen soos hy gevra is. Terwyl hy terugstap na die hek, kan hy nie anders as om te sien dat die takke van die boom al tot teen die hek loop. “Dit moet geknip word,” dink Bakkies, “as dit oor die hek groei, kan dit gou ‘n wegsteek plek vir skelms word.” Die gras is ook besig om wild uit te groei. Toe hy die hek toemaak, sien hy weer hoe die gordyn liggies beweeg.

Saartjie staan en kyk van binne af hoe Bakkies die inkopies neersit dan terug draai na die hek. Hy kyk op na die takke van die ou boom en na die gras wat al so lank en wild is. Sy is te bang om mense te kry om dit te kom sny maar sy sal seker maar moet. Sy sal met Libbie daaroor moet praat.

Terug by die winkel is Meneer Alwyn besig om met ‘n vrou te gesels. Hy sien vir Bakkies en roep hom nader.

“ Bakkies, dis juffrou Libbie, sy is n onderwyser by Van Riebeeck Primêr hier onder in die dorp.”

“Juffrou Libbie, dis Bakkies, my regterhand,” sê Meneer Alwyn trots. “Hy woon by my en soos jy kan sien is hy verantwoordelik vir die winkel wat so tops lyk.”

Bakkies glimlag van oor tot oor, oor hierdie woorde. Hy het nog nooit in sy lewe so lekker gevoel nie. Libbie vertel hulle dat sy ‘n vriendin van Saartjie is en dat sy net wou kom kennis maak met die jong man wat die inkopies aflewer. Omdat die winkel op daardie oomblik baie still is, bied Meneer Alwyn aan dat hulle ‘n bietjie koffie drink en gesels. Libbie vind uit dat Bakkies van Namakwaland is en dat hy hom in die tronk bevind het voordat hy Meneer Alwyn ontmoet het. Bakkies is nie skaam om oor sy verlede te praat nie. Hy is trots op hoe vêr hy gekom het en Libbie kan sien dat daar werklik ‘n lus vir die lewe in hom is. Sy kan nie anders as om hierdie jong man te admireer nie.

Libbie vertel hulle dat sy en Saartjie oorspronklik van Heilbron is. Sy vertel dat hulle al van laër skooldae af vriende is en dat hulle saam Worcester toe kom trek het. Sy kan nie vir hulle vertel hoekom Saartjie nie uit haar huis kom nie, maar dat sy wel oukei is. Bakkies kan nie help om aan Libbie te vertel oor sy denke dat die boomtakke dalk n veiligheidsrisiko kan wees. Sonder om twee keer te dink, bied hy aan om dit te sny.

HOOFSTUK SEWE

DIE ONTMOETING

Dis drie dae nadat Libbie met Meneer Alwyn en Bakkies koffie gedrink het in die winkel. Hier sit sy nou met Saartjie aan tafel, elkeen met ‘n stomende koppie koffie en melktertjies wat Saartjie self gemaak het.

Saartjie is ‘n besonderse goeie bakster en elke week kry Libbie ‘n gebakte brood met beskuit of tertjies wat sy vir haar kinders by die skool neem. Die kinders weet al dat tannie Saartjie elke week vir hulle ietsie lekker stuur en skryf graag notatjies om dankie te së. Hierdie notajies pronk oral teen Saartjie se yskas. “Sy het darem so ‘n goeie hart,” dink Libbie.

Die geselskap het uiteindelik aan beweeg na Bakkies toe. Libbie vertel gretig wat ‘n opregte persoon hy is. Sy vertel dat hy by Meneer Alwyn bly en hoe hy die winkel agtermekaar hou. Sy vertel van Tannie Magda wat nie uitgepraat kan raak oor hoe netjies die winkel is nie en hoe meer en meer mense nou die winkel besoek in plaas van al die pad dorp toe te gaan.

Saartjie sit en kyk na Libbie toe sy so gaande raak oor die jong man. As sy nie geweet het dat Libbie verloof is nie, sou sy kon sweer Libbie het ‘n ogie op hom. Sy luister verder sonder om iets te sê. Uit Libbie se storie kan sy hoor dat die man betroubaar is en dat hy baie goed na homself, en soos dit voorkom, na Meneer Alwyn, kyk.

Libbie word uiteindelik stil en kyk na Saartjie. Sy het nie vir Saartjie vertel dat Bakkies in die tronk was nie. Daardie bietjie nuus sal sy maar vir haarself hou. Bakkies het mos sy lewe verander en hy bewys oor en oor dat hy uit die foute wat hy gemaak het, geleer het.

“Saartjie,” sê sy huiwerig. “Die takke van die boom hiervoor hang al amper oor die draad. Dit gaan ‘n gevaar wees as dit reg oor gaan, want dan maak dit wegsteek plek asook toegang tot jou plek. Die outjies kan in die takke klouter en dan oor die hek kom. Die gras hiervoor is ook bietjie te lank. Dit kom al amper tot by mens se kniee.”

“Ek het daaraan gedink Libbie, maar vir wie vra ons om dit te doen? Ek wil nie vreemde mense hier op die plek he nie. Miskien moet jy maar vir Riaan vra om dit asseblief te doen. Ek sal hom natuurlik goed betaal vir die werk wat hy doen.”

“Riaan?” lag Libbie. “Ag Saartjie, my verloofde is ‘n onderwyser nes ek. Sy hande is so sag soos die binnekant van ‘n kussing. Hy het nog nooit in sy lewe tuinwerk gedoen nie.”

‘Saartjie,” sê sy, toe sy sien Saartjie se uitdrukking is weer heel toe. “Ek kan vir Bakkies vra om dit te doen. Hy sal baie goeie werk kan doen. Buitendien het hy dit self nou die dag opgebring.”

Saartjie se hand gaan onmiddellik weer na haar mond, maar nog voordat sy aan die naels kan begin kou, sê Libbie, “Meneer Alwyn het aangebied dat sy bakkie gebruik kan word om die takke en gras weg te ry. Hy sal ook saamkom en kom toesig hou en ek sal ook natuurlik hier wees.”

Die volgende Saterdag is Libbie vroeg by Saartjie. Sy sien onmiddellik dat Saartjie baie min slaap gehad het maar die reuk van gebakte brood en moer koffie maak dat sy niks sê nie. Die feit dat Saartjie gebak het is al klaar ‘n groot oorwinning.

Nie lank na Libbie opgedaag het, lui die klokkie by die hek. Libbie gaan na die venster en sien vir meneer Alwyn en Bakkies daar staan. Sy maak die hek oop en gaan na buite om hulle welkom te heet. Bakkies het al die nodige gereedskap en begin sommer dadelik te werk. Meneer Alwyn maak hom gemaklik by die tafel op die stoep en Libbie gaan sit saam met hom.

Meneer Alwyn het weer die trotse uitdrukking op sy gesig toe hy na Bakkies kyk. Hy vertel aan Libbie hoe lekker dit is om bietjie uit die winkel te wees. Vakansie dae is die enigste tyd dat hy ‘n bietjie net sy eie ding kan doen.

Libbie hoor hoe Saartjie saggies na haar roep. Toe sy ingaan het Libbie die koffie en brood heel netjies op ‘n skinkbord rangskik. Sy weet nie hoe sy dit reggekry het nie, maar sy oortuig vir Saartjie om tot buite op die stoep saam met haar te gaan. Half bang en half skaam volg Saartjie vir Libbie na die stoep. Sy hou haar hare oor die kant van haar gesig wat geskend is, vas.

Meneer Alwyn is verbaas toe hy vir Saartjie sien uitkom by die deur maar hy maak asof niks gebeur nie. Libbie stel hulle voor en Meneer Alwyn sê aan Saartjie hoe goed dit is om te weet wie hy nou aan aflewer. Met Meneer Alwyn en Libbie aan beide kante van haar, voel Saartjie uiteindelik meer gerus en begin ook om die sonnetjie vir die eerste keer in ‘n lang tyd, te geniet. Libbie roep na Bakkies om koffie te kom drink en nadat hy sy hande gewas het, sluit hy ook by hulle aan.

“Sjoe!” dink Bakkies terwyl hy aan Saartjie voorgestel word. “Wat ‘n mooie vroumens.”

Saartjie kyk vlugtig na Bakkies, Haar hand bewe toe sy bekend gestel word aan hom. “Dankie,” se sy saggies. “Dankie vir vandag.”

HOOFSTUK AGT

Dis nou al drie weke nadat Bakkies die bome geknip het en die gras gesny het. Wanneer Bakkies nou die inkopies aflewer, staan Saartjie by die venster en wink huiwerend na hom. Bakkies waai terug en gee ‘n vriendelike glimlag voor hy by die hek uitstap. Saartjie begin meer en meer gerus voel met Bakkies wat aflewer. Sy let ook op dat wanneer sy die sakkies oopmaak, is daar ‘n vrug of ‘n klein sjokolade by, wat sy nie bestel het nie. Sy wonder wie dit daar byvoeg, Meneer Alwyn of Bakkies? Sy vind ook dat sy nou uitsien na die aflewering van haar inkopies. Sy kan nie wag om te sien watter pasella in haar sakkies sal wees nie. Al is Saartjie nog baie bang om uit by die deur te gaan, gee die klein geskenkie darem vir haar ‘n soort van advontuur.

By die winkel vertel Bakkies vir Meneer Alwyn dat Saartjie deesdae by die venster staan en wink as hy by die hek uitstap. Meneer Alwyn is bly dat Saartjie so goed vorder maar maan Bakkies om maar ligvoet te wees en niks te doen wat haar weer sal laat skrik nie. Beide manne wil baie graag weet wat dit is wat Saartjie so bang maak vir alles om haar, maar nie een wil die vraag hardop vra nie.

By die huis gaan dinge tussen Meneer Alwyn en Bakkies ook beter aan. Die twee het ‘n roetine aangeskaf waar Bakkies soggens brekvis voorberei en Meneer Alwyn na aandete omsien. Nadat die kombuis skoongemaak is, sit die twee gesellig en tv kyk of hulle speel n vriendelike potjie skaak.

Dit is rugbytyd en altwee is gaande oor die Springbokke, dus, wanneer daar ‘n game gespeel word, word die winkel vroeg toegemaak, die braai- bak word uitgebring en Meneer Alwyn en Bakkies sit lekker agteroor en geniet mekaar se geselskap terdee. Bakkies, met ‘n hart vol dankbaarheid vir hierdie nuwe lewe wat hy gevind het en Meneer Alwyn dankbaar vir die seer wat stadigies toegemaak word met Bakkies se teenwoordigheid.

HOOFSTUK 9

SAARTJIE REIK UIT

Dit is net na nege die oggend toe Saartjie ‘n harde geluid hoor, gevolg deur ‘n venster wat breek. Onmiddellik is sy paniek bevange - haar oë staan groot in haar kop en haar naels wat al klaar so kort gekou is, loop weer deur. Sonder dat sy bewus is van wat sy doen,gaan sit sy hurkend teen die gang se muur, haar ligaam swyg van kant tot kant en kort-kort kom daar n klein kreun geluid uit haar keel.

Na n half uur besef sy dat dit besonders stil is in die huis. Daar was nog niks verdere geluide nie. Versigtig staan sy op en stap na die kant van die huis waar die geluid vandaan gekom het. Die toilet, badkamer en haar slaapkamer is nog dieselfde as toe sy dit vroeër skoon gemaak het. Maar toe sy by die gaste kamer kom, sien sy net glas stukkies oral lê en toe sy na die venster kyk, sien sy die skuldige een. ‘n Boomtak het teen die venster gewaai en die ruit in stukkies gebreek en nou is dit vasgevang in die gaping wat gelos was.

Saartjie weet nie of sy moet lag of huil nie. Aan die een kant is sy veilig, daar is niemand wat probeer inbreek het nie, behalwe die boomtak natuurlik. Aan die anderkant weet sy nie hoe sy die probleem van die stukkende venster gaan oplos nie. Sy kan nie vir Libbie bel nie. Sy en haar verloofde is al vroeg oggend casino toe vir brekvis. Daarna het hulle by die Spa ingeboek. Hulle sal natuurlik ook bietjie by die masjiene rond wandel. Ai tog…wat ‘n gemors!

Die enigste uitweg is om vir Meneer Alwyn en Bakkies te bel. Sy weet Meneer Alwyn sal enige tyd kom om te help en hy sal seker maak dat Bakkies ook saam kom.

Meneer Alwyn is verbaas toe hy die telefoon optel en Saartjie se stem hoor. “Saartjie,” sê hy. “wat ‘n plesier om jou stem te hoor. Waarmee kan ek jou vandag help?”

“Meneer Alwyn,” sê Saartjie. “Die boom se tak het deur die venster gewaai. Die venster is gebreek en die tak is vasgevang in die gat wat dit gemaak het. Ek weet nie hoe om dit uit te kry en die venster reg te maak nie. Kan Meneer asseblief help?”

Meneer Alwyn dink so ‘n rukkie na dan se hy, “Saartjie, as jy so bietjie kan aanhang, sal ek en Bakkies net na twee-uur daar wees. Dis mos die Bokke se wedstryd vandag so ons maak vroeg toe.”

Saartjie gee ‘n sug van verligting, “Dankie Meneer Alwyn. Meneer moet net die rekening saambring sodat dit sommer afgehandel kan word.

“Ons gesels later daaroor,” sê Meneer Alwyn. “ Sien jou later Saartjie.”

HOOFSTUK TIEN

SAARTJIE SE LAG

Dis al na twee toe Meneer Alwyn en Bakkies die kamer staan en bekyk. “Wat ‘n gemors! Gelukkig was Saartjie nie hier naby toe dit gebeur het nie.”

Bakkies skud sy kop, “dit gaan ‘n gedoente wees om die tak daar uit te kry. Gelukkig het ons die kettings en saag saamgebring.”

“Wel, as ons nog die game wil kyk later, sal ons nou moet roer,” sê Meneer Alwyn.

Saartjie staan en luister hoe die manne die taak bespreek. Sy voel sommer honderd persent beter en weet dat daar goeie werk gedoen sal word. Sy loop ingedagte na die kombuis en begin bak bestanddele bymekaar sit.

‘n Uur later kom die reuk van gebakte goedere na die agterkant van die huis toe aangedryf.

“Sjoe, iets ruik darem baie lekker, sê Bakkies terwyl hy buite by die venster die kettings aan die tak vasmaak. Meneer Alwyn kyk speels na hom en sê, “jou brein moet hier by die werk wees en nie in die kombuis nie.”

“Ai oom, hoe kan mens dan anders as dit so lekker ruik,” sê Bakkies.

Dis op hierdie prentjie wat Libbie later afkom. Toe hulle verby Saartjie se huis ry, terug van die casino, sien sy Meneer Alwyn se bakkie voor die deur staan. Sy sê onmiddellik vir Riaan om te stop en die twee is daar by Saartjie in.

Wat ‘n prentjie! Saartjie staan met n voorskoot aan, gesig rooi van die hitte van die kombuis en ‘n kolletjie meel op die punt van haar neus, voor hulle. Van agter in die huis kom daar mansstemme so tussen ‘n gesaag en gekap deur.

Nadat Libbie vir Riaan aan Saartjie voorgestel het, vertel sy hulle die storie van die boomtak. Sy gaan wys hulle waar Meneer Alwyn en Bakkies besig is en nadat Riaan aan hulle voorgestel is, spring hy ook sommer saam in en begin help.

Libbie en Saartjie gaan terug na die kombuis waar Saartjie al ‘n hele maaltyd voorberei het. Op die stoof is daar skaapstertjies besig om te kook, in ‘n bak is Saartjie besig met deeg vir roosterkoek en in die oond is die laaste paar beskuit besig om klaar te maak. Libbie kan haar oë nie glo nie. Saartjie is so kalm met ‘n fyn glimlag wat om haar mondhoeke speel. Sy is amper soos die Saartjie wat Libbie daardie jare geken het.

Nadat die tak uiteindelik verwyder is en die venster weer heel gemaak is, stap die mans by die kombuis in. Saartjie en Libbie het al die tafel gedek en hulle moet net aansit. Meneer Alwyn staan huiwerig by die kombuis deur. Saartjie sien shoe ongemaklik hy is en probeer hom aanspoor om te sit. Dis Riaan wat uiteindelik verduidelik dat die rugby game enige tyd gaan begin en hulle wil dit graag gaan kyk. Libbie kyk na die drie mans wat soos klein seuntjies voor hulle staan. Sy weet nie wie om meer jammer te kry nie, Saartjie, wat alles so mooi voorberei het, of die mans wat met leep oë na hulle staan en kyk.

Dan onthou sy, “Saartjie, maar die game kan mos hier gekyk word. Jy het mos DSTV.”

In ‘n oogwink word die stkamer verander in ‘n pub. Kosse word na binne gedra, die biertjies wat nog agter in Meneer Alwyn se bakkie was, word gehaal en die rusbanke word geskuif sodat almal gemaklik kan wees.

Wat ‘n gesellige namiddag. Die mans is vurig in die wedstryd betrokke en skree en raas asof hulle self op die veld is. Saartjie en Libbie gee so hier en daar komentaar en toe Riaan uit sy sitplek spring en amper die TV aanrand toe Sasha ‘n doel mis, lag Saartjie dat die trane loop.

Bakkies kyk na Saartjie, hy hoor haar lag, dis soos musiek in sy ore. Dis ‘n lag wat suiwer is, met niks wat agter gehou word nie. Vir Bakkies klink dit na vryheid.

HOOFSTUK ELF

DIE PIEKNIEK

Hoe lekker is dit om weer vir Saartjie te hoor lag, dink Libbie terwyl sy besig is om aan haar klaskamer ‘n bietjie meer order te bring. Saterdag was nou ‘n lekker dag! Sy is so bly dat Riaan en Bakkies vriende geword het want dit het vir haar op ‘n tyd laat dink dat Riaan niks anders behalwe die skool, pret vind nie.

Die twee het afgespreek om die naweek vis te gaan vang by die rivier. Sy sal maar die dag met Saartjie spandeer. Sy wens so dat Saartjie ‘n bietjie uit wil gaan, Dit sou beslis lekker gewees het om ‘n rolprent te gaan kyk of in die mall te gaan rondloop. Maar wie weet….miskien eendag ….

Die feit dat Saartjie nog nie weet van Bakkies se verlede nie, kou so bietjie aan Libbie se gewete. Hoe gaan Saartjie dit hanteer as sy moet uitvind? Dinge verloop nou so goed dat Libbie dit goed dink om maar nog ‘n bietjie aan te hang met die nuus.

Die volgende twee weke gaan vinnig verby. Bakkies lewer nog altyd Saartjie se inkopies af. Die enigste verskil is dat sy nou die deur oopmaak as hy klop. Die geskenkies het nou verander in ‘n skaak speletjie tussen die twee. Elkeen het ‘n bord by hulle huis. Die een maak ‘n skuif op hom of haar bord en skryf dit dan neer en gee dit vir die persoon met aflewering. Hulle geselskap by die deur gaan dan oor die speletjie, wie het waar geskuif en hoekom dit ‘n goeie of slegte spel was.

Beide Saartjie en Bakkies sien verskriklik uit na hierdie geselsies. Vir Saartjie het dit ‘n band met die buite wêreld gevorm, vir Bakkies was dit iets meer. Met elke geselsie kon hy voel hoe hy dieper en dieper onder Saartjie se spel val. DIe tyd tussen die aflewerings is somtyds soos ‘n band wat te styf om sy nek gedraai is. Dis eers as die band bietjie losgelaat word, dat hy weer asem kan haal.

Meneer Alwyn hou van ‘n afstand hierdie vriendskap tussen die twee jong mense dop. He sien hoe Bakkies stadig verlief raak op die meisiekind. Meneer Alwyn is bly oor die verwikkeling maar hy is ook bekommered. Wat as Saartjie uitvind dat Bakkies in die tronk was? En wat is dit wat Saartjie so seer gemaak het dat sy nie by haar huis wil uitkom nie. Ai, hy hoop maar hierdie ding werk homself uit sonder dat enige een hoef seer te kry nie.

DIs Saterdagoggend, nog ‘n vakansie dag en die winkel is weer toe. Die vier jong mense sit op Saartjie se stoep met ‘n koue bottel lemoensap voor hulle. Die mans vertel van hulle laaste visvang episode en hoe Bakkies amper in die water geval het toe die vis onverwags aan die lyn begin trek het. Die meisies skater van die lag soos Riaan die storie vertel. Ja-nee, ou Riaan weet hoe om ore en stertjies aan ‘n storie te sit, dink Bakkies, maar ook hy kan nie help as om saam te lag nie.

Riaan vertel hulle ook van die piekniek area met sy braai geriewe en sonder om te dink vra hy, “Kan ons nie more vir die dag ‘n bietjie by die rivier gaan piekniek hou nie? Dit sal so lekker wees.”

Almal kyk na Saartjie wat weer haar hand oor haar gesig hou, die paniek duidelik in haar oë. Riaan voel onmiddellik sleg oor die voorstel.

“Ag, ons hoef nie te gaan nie. Ons kan mos ook hier braai, of hoe, Bakkies?

Bakkies kyk na Saartjie, hy sien hoe sy worstel met haar gevoelens.

“As Saartjie ja se, sal ‘n braaitjie hier nogal lekker wees,” sê hy.

Libbie wat heeltyd stil gesit en luister het, kyk na Saartjie en sê,”Saartjie, dit sal nogal lekker wees om bietjie by die rivier te gaan sit vir ‘n paar ure. Ek is seker oom Buks sal dit ook waardeer om ‘n bietjie uit die huis te wees”

Libbie kyk na Saartjie. Sy weet sy het ‘n sagte plekkie vir oom Buks en sal nie gou nee sê vir hom nie.

Saartjie voel asof sy in web vasgevang is. As sy ja sê, moet sy tussen vreemde mense gaan wees. As sy nee sê dan is sy ‘n pretbederwe. Sy kyk na Libbie wat nou haar lippe op ‘n spelerige wyse in ‘n huilende vorm trek. Sy kyk na Bakkies wat haar nie in die gesig kan kyk nie en na Riaan wat soos ‘n verlore skoolseun met ‘n klein stokkie sit en speel.

“Ons kan seker maar gaan,” se sy uiteindelik. Ek sal slaaie maak om by die braai te eet.”

Libbie is so opgewonde dat sy haar self nie kan keer om haar arms om Saartjie se nek te gooi en haar ‘n stywe drukkie te gee nie. So tussen deur die drukkie, fluister sy saggies in Saartjie se oor, “Ek sal na jou kyk Saartjie.”

Wie sou kon raai dat die piekniek so wonderlik sal wees? Dit was ‘n heerlike sonskyndag met net ‘n ligte briesie wat waai. Wat verbasend was, was dat daar nie baie mense by die rivier was nie en hulle kon heel op hulle eie wees. Toe Saartjie sien hoe rustig dit is, het sy onmiddellik begin ontspan. Die mans het met die braai begin en Libbie het Saartjie saam met haar geneem tot by die river waar hulle op ‘n bank gaan sit en die pragtige prentjie wat voor hulle uitgespeel het, aanskou het.

Na n lang stilte sê Saartjie aan Libbie, “Libbie, hoe maak ek?”

Libbie kyk haar verbasend aan. “Met wat Saartjie? Hoe maak jy met wat?”

“Ek hou van Bakkies,” se sy skaam, “maar ek’s so bang. Wat as…wat as dit weer gebeur? En hoe kan ek dink dat hy van my ook sal hou. Kyk hoe lyk ek. Kyk my gesig.”

Libbie vou Saartjie weer in ‘n drukkie toe, sy vee saggies die trane wat by haar wange begin afrol, af.

“Saartjie, het jy gesien hoe kyk Bakkies na jou? Hy is dolverlief op jou. Almal kan dit sien. Hy kyk dieper as jou gesig, hy sien nie die merk nie. Hy sien jou hart.”

“Maar as hy weet, van daardie dag, wat dan? Sal hy dan nog steeds van my hou? Hoe sê ek vir hom van wat gebeur het? Ek wil nie eers self daaroor dink nie.”

“Saartjie, jy bekommer jou te veel oor dinge wat jy geen beheer oor het nie. Onthou, ons almal het ‘n verlede. Ons almal het seer en vrees wat ons meer saam lewe. As jy en Bakkies bedoel is vir mekaar, sal dinge hulself uitwerk.”

“Haai, julle twee,” roep oom Buks na hulle. Ons is nou moeg gebraai, dis nou julle beurt. Hoe lyk dit julle twee kruip weg vir die werk.”

Lag-lag staan die twee meisies op en stap na die tafel waar hulle die middagete gaan voorsit. Bakkies en Riaan staan en kyk na die twee vrouens soos hulle nader stap en elkeen dink hoe goed dit is om sulke twee pragtige vrouens saam met hulle te het.

HOOFSTUK TWAALF

DIE DUIWEL BOU OP ANDER SE GELUK

Dis Desember maand en almal is vrolik en vry. Die skole is gesluit en dis amper tyd vir die fabrieke en kantore om ook te sluit. Almal hou van hierdie tyd van die jaar, al is dit vreeslik warm op Worcester. Die liggies in die hoofstraat is op die eerste Desember aangeskakel en tot almal se verbasing het Saartjie saam gegaan om hierdie verigtings by te woon. Die opgewondenheid op haar gesig was so bitter mooi en haar glimlag ewe breed terwyl sy Bakkies se hand styf vas gehou het.

Die lewe kon nie mooier word vir hierdie vyf mense nie. Meneer Alwyn of oom Buks, soos hulle nou noem, se gesig straal van blydskap terwyl hy die jong mense aankyk. Hy voel soos ‘n regte ouer, ‘n trotse een.

Die winkel is nou besig om behang te word met allerhande Kersfees liggies en helder papier linte. Die meisies is heel kreatief en werk aan die uitlegging terwyl die mans die harde werk moet doen. Almal is plesierig met grappies en ‘n geterg wat heen en weer gaan.

Dis tien minute voor sluitingstyd en Bakkies het almal genooi vir aandete. Hy spog mos dat hy ‘n bobaas kosmaker is. Wat hy gaan voorsit vir hulle is ‘n geheim wat hy nie deel nie. Hulle moet wag en kyk en dan hulle opinie gee as hulle klaar geëet het, se hy.

Terwyl hulle oppak, hoor hulle die klokkie by die deur afgaan. Die laaste kliente dan kan hulle maar sluit, dink oom Buks.

‘n Vreemde man stap tot by die toonbank en vra vir ‘n pakkie sigarette en ‘n lighter. Saartjie, wat besig was om na oom Buks toe te stap, vries in haar spore, haar hele liggaam begin bewe en die glas ornament wat in haar hand was, val met ‘n kletter geluid op die vloer. Almal se aandag is onmiddellik by Saartjie, maar dis Libbie wat eerste by haar uitkom. Sy kyk in die rigting wat Saartjie na staar. Daar voor haar, in lewende lywe, staan Kris, Saartjie se eks, die man wat Saartjie se lewe amper van haar af weggeneem het.

‘n Afskuwelike grynslag speel oor Kris se gesig toe hy vir Saartjie gewaar. Wie sou kon dink dat hy haar in hierdie dorp sou raakloop.

“Saartjie?” vra hy. “Is dit regtig jy? Nou wie sou kon dink dat ek jou hier sal raakloop. En kyk, jy lewe nog. Hoe voel jou gesig? vra hy sarkasties”

Bakkies wat heel agter besig was om te sluit, maak gou dat hy by Saartjie uitkom toe hy hoor hoe die man Saartjie aanspreek. Hy sit sy arm om haar skouers en druk haar teen hom vas. Die spanning in die winkel is tasbaar.

Kris kyk die prentjie voor hom aan. Hy kyk weer na die mense by Saartjie. Dis mos Libbie, dink hy, Saartjie se vriendin van Heilbron. En die mannetjie ken hy ook mos, maar van waar?

Dan helder sy gesig skielik op.

“Bakkies? Bakkies? Dis ek, Kris? Onthou jy my nie meer nie? Dis mos nie so lank dat ons saam was nie. Onthou jy? Op Brandwag, ons was dan sel maats. Hoe kan jy my so gou vergeet het?”

Bakkies voel hoe die kleur uit sy gesig verdwyn. Wat soek Kris hier? Hoekom nou en hoe ken hy vir Saartjie?

Bakkies kyk na oom Buks, sy oë pleitend. Oom Buks maak sy keel skoon en sê, “hier’s jou sigarette, dit sal veertig rand wees asseblief.”

Kris lig sy hand op en sê, “Nee wag gou. Ek wil mos net die mense wat ek ken, groet. Kyk hoe werk die wêreld. Saartjie, Libbie en Bakkies, nogal almal saam in een plek.”

“Betaal net jou sigarette en loop,” se Libbie. “Ons soek jou nie hier nie.”

“Haai, maar dis mos onbeskof. Ek groet mos maar net. En Bakkies, as jy dan nou so staan met ‘n mond vol tande, en dit nogal met jou arm om my girl.”

“Meneer,” sê Riaan, “ons vra asseblief mooi dat jy moet loop Dis toesluit tyd en ons wil graag huis toe gaan.”

Kris kyk na die mense voor hom. “Toesluit tyd? Nou sluit dan toe dan kan ons mos lekker gesels.” Met dit steek hy sy hand agter by sy rug in en bring ‘n vuurwapen na vore.

Saartjie maak ‘n sagte huil geluid in haar keel en Bakkies gaan staan voor die twee vroumense. Kris sien die beweging en gee ‘n nare laggie. Hy rig die vuurwapen op oom Buks en sê, “Kom ou man, sluit nou toe en die res van julle kom sit hier op die vloer voor my sodat ons lekker kan gesels.”

Nadat almal op die vloer voor hom is, gaan sit Kris op ‘n stoel, die vuurwapen nou op al vyf mense gemik. Die mans se hande is met tou agter hul ruê gebind en die meisies sit teen mekaar.

“So Saartjie,” sê hy. “Jy wou nie saam met my wees nie maar kyk nou, hier sit jy ewe lovey-dovey met Bakkies.”

Hy kyk na Bakkies en vra, “So hoe het jy dit reggekry ou maat? Saartjie is dan so uptight. Hoe het jy dit reggekry dat sy met jou, ‘n tronkvoel nes ek, bevriend sou raak?”

Saartjie hoor die woorde wat Kris uitspreek maar sy kan nie uitmaak wat hy eintlik probeer sê nie. Dan hoor sy die woord, tronkvoel, en sy voel hoe haar liggaam weer begin ruk.

Bakkies wat haar sit en dophou, sien hoe die woorde by Saartjie insink, hy sien hoe die uitdrukking op haar gesig verander. Dan kyk sy na hom met ‘n verwarde uitdrukking en beweeg selfs meer na Libbie toe.

Kris gee weer daardie afgruwelike lag, “O jammer, jy’t nie geweet nie. Bakkies het ek nou jou geheim verklap?” lag hy.

Libbie, wat nou genoeg van Kris gehad het, vra vurig vir hom, “wat wil jy hê Kris? Jy’t mos niks hier verloor nie? Hoekom is jy hier, jy behoort mos in die tronk.”

Kris lag sinies en kyk na haar, “Haai, maar het julle nie gehoor nie? Ek is op goeie gedrag vrygestel. Van vandag af is ek weer ‘n vry man. Ek en jy kan nou weer van voor af begin, Saartjie,” sê hy terwyl hy van die stoel af opstaan en na haar toe loop.

Libbie hou haar stywer vas maar Kris hou die vuurwapen teen Libbie se voorkop. “Kom nou Libbie, jy wil mos nou nie hê die rewolwer moet per ongeluk afgaan nie, of hoe?”

HOOFSTUK DERTIEN

HOEVEEL SEER IS GENOEG?

Die atmosfeer in die winkel is so vol spanning, mens kon dit met ‘n mes sny.

“Bly weg van haar,” skree Riaan aan Kris. “Ek sweer, as jy haar seermaak…”

“Sal jy wat maak?” koggel Kris terug.

Hy neem Saartjie se gesig in sy hande en draai dit na die mans.

“Miskien moet ek my kunswerk hier voltooi, dan met die ander een begin,” lag hy terwyl hy na Libbie kyk.

“Dit sal nogal mooi lyk. Twee oorspronklike kuns stukke deur Kris Lamberts.”

Teen hierdie tyd kan Saartjie nie meer die snikke keer wat uit haar keel ontsnap nie.

“Los my, los my asseblief Kris,” smeek sy, terwyl sy haar gesig uit sy hand probeer worstel. “Jy maak my seer.”

Kris kyk na haar en lag, “Seer? Maar ons het dan nog nie eers begin nie, Saartjie my ou dier.”

Terwyl Kris se aandag op Saartjie gevestig is, sien Bakkies die kans om hom te takel. Met sy hande nog steeds agter sy rug gebind, beweeg hy vinnig en gooi sy hele liggaam teen Kris.

Die slag vang Kris onkant en hy val met ‘n harde slag teen die vloer, die dowwe geluid van ‘n skoot wat afgaan, dreun deur die winkel en die vuurwapen glip uit sy hande.

In dié vreesbevange oomblik, is Libbie die eerste een wat tot by haar sinne kom. Sy sien die vuurwapen oor die vloer seil en nog voor Kris sy oë kon uitvee, staan sy met dit op hom gerig.

“Saartjie, Saartjie,” skree sy. “Maak die mans los!”

Die res van daardie aand is soos ‘n rolprent wat in Libbie se gedagtes herspeel word.

Bakkies is in die arm geskiet, die polisie het opgedaag en vir Kris weer in hegtenis geneem. Die ambulans met Bakkies is weg hospitaal toe en oom Buks is saam. Libbie, Riaan en Saartjie moes agter bly om verslag te gee, nie dat Saartjie van enige hulp was nie, sy het onmiddellik weer in haarself weggekruip en niks kon uit haar gekry word nie.

Terwyl Bakkies in die hospitaal herstel, dink hy aan die aand tevore. Hoe kon hy so dom wees om nie vir Saartjie van sy verlede te vertel nie? Wat het hy gedink? Gehoop? Hoe moes hy geweet het dat Saartjie so diep seer gemaak was deur iemand wat sy lief was voor. Hoe kon hy geweet het? Het hy haar nou vir ewig verloor? Nee…dit kan nie wees nie…hy kan haar nie verloor nie!

By Saartjie se huis sit Libbie en Riaan, hulle sukkel om sin te maak van wat die vorige aand plaasgevind het. Hoe het dit so gekom dat Kris op daardie oomblik by die winkel moes instap? Dinge het net begin rooskleurig lyk vir Saartjie en Bakkies en almal was gelukkig. Wat gaan nou gebeur?

Oom Buks is besig om die winkel weer reg te probeer kry. Die winkel is gesluit vir die dag, dis net polisie wat in en uit gaan. Die koëel wat deur Bakkies se arm gegaan het, is gekry en vir bewyse geneem. Die dokter het gesê dat daar niks belangrik beskadig is nie. Bakkies sal teen die volgende dag weer ontslaan word. “Wat dan?” dink oom Buks. “Hoe maak ons dan? Hoe maak ons dinge weer reg?”

In haar eie kamer, in haar eie huis, agter hoë, geslote hekke, sit Saartjie soos ‘n robot in haar bed met ‘n dik kombers oor haar skouers. Sy het nog niks beweeg vandat Libbie en Riaan haar huis toe gebring het nie. Libbie het vir haar ‘n koppie swart, sterk tee gemaak en haar in die bed gesit. Sy wou nie lê nie, sy wou nie slaap nie, sy wou nie droom nie. Sy kan hoor hoe hulle saggies met mekaar praat. Saartjie se hart voel so seer, haar brein voel ooreis, haar liggaam voel moeg. Sy wil net alleen wees. Hulle het vir haar vir ‘n grap gevat. Hulle het almal geweet dat Bakkies in die tronk was en niemand het iets gese nie. Hoe kon hulle? Hoe kon hulle so wreed wees met haar? Hoeveel seer moet sy nog deurmaak? “Liewe Heer, ek kan nie meer nie,” bid Saartjie saggies.

HOOFSTUK VEERTIEN

LIEFDE OORHEERS SELFS DIE SEER

Leuns het ‘n manier om mens se lewe deurmekaar te krap. Dit kners aan verhoudings wat al deur strawwe storms deur is. Dit bevraagteken mens se integriteit en laat jou met bitter spyt agterna.

Dis die probleem wat Bakkies mee worstel, wat hom snags wakker hou en soggens met trane wat oor sy wange rol, wakker maak.

Wat hy nie sou doen om dinge weer reg te kan stel nie! Hoe moes hy geweet het dat Saartjie so diep seergemaak was deur ‘n man. Hoe moes hy weet dat deur stil te bly oor sy verlede, dit die seer in Saartjie sal vererger. In sy agt en twintig jaar op die aarde, het Bakkies al deur diepe waters gegaan, maar nog nooit het hy so sleg gevoel soos hy nou voel nie.

Van agter in die winkel hou oom Buks vir Bakkies dop. Sy hart bloei vir hierdie seun wat al deur so baie in sy lewe moes gaan, en nou nog dit ook! Hy sien hoe die vlam in Bakkies se oë stadig geblus word, hoe sy postuur verander, sy skouers vooroor gebuk gaan. Stadig loop oom Buks na die telefoon en skakel ‘n nommer.

Aan die anderkant van die lyn tel Libbie op.

“Oom Buks?” groet sy. “Is alles oukei? Makeer oom iets?”

“Libbie,” sê oom Buks, “ons moet praat, so kan dinge nie aangaan nie. Kan ek na sluitingstyd by julle omkom asseblief?”

“Ja, oom Buks,” sê Libbie, “ek dink dis tyd dat ons dinge moet regstel. So kan dit nie aangaan nie. Ek sal vir Riaan vra om vir Bakkies bietjie uit te neem dan kan ons gesels.”

Net voor sluitingstyd, kom sê Bakkies aan oom Buks dat Riaan hom gevra het om die konsert by die skool saam met hom by te woon. Hy het help nodig met die versierings, veral die swaar goed. Hy sal eers laat die aand by die huis wees.

Na Bakkies en Riaan weg skool toe is, klim oom Buks in sy bakkie, ‘n paar minute later vind hy hom aan tafel in Libbie se sitkamer, Libbie het vir hulle aandete voorberei en so tussen deur die eet, vertel sy uiteindelik die storie van Saartjie en Kris. Oom Buks se mond hang oop soos Libbie die storie vertel en toe sy by die gedeelte kom, waar Kris vir Saartjie met die mes deur die gesig sny, kan oom Buks nie die kreet wat uit sy keel ontsnap, keer nie.

“My arme Saartjie,” sê oom Buks terwyl die trane by sy wange afrol. “My arme, arme Saartjie! Hoe kon hy so wreed wees? Saartjie is dan so ‘n sagte meisiekind.”

Na ‘n lang ruk waarin die twee mense in stilte sit en nadink, sê oom Buks,

“Ek kan nou verstaan waarom sy so sku opgetree het, hoekom sy nie uit haar huis wou gaan nie en hoekom dit so lank geneem het om vir ons almal te vertrou. Maar Libbie, ons moet iets doen. Ons moet haar kry om Bakkies weer te vertrou. Dit breek my hart om te sien hoe verpletter hy is.”

“Ja,” se Libbie. “Saartjie is net so gebroke. Sy sit nou net in die huis, gesels nie eers meer baie met my nie, en as ek net Bakkies se naam noem, dan lyk dit sy wil my uitsit uit haar huis”

“Ons moet nou koppe bymekaar sit en aan ‘n plan dink om hulle weer bymekaar te kry,” sê oom Buks, en die twee begin onmiddellik om ‘n plannetjie te beraam.

Dis twee weke na oom Buks en Libbie se praatjie, toe die telefoon in die winkel lui.

“Oom Buks, dis ek Libbie, die kraan in die badkamer hier by Saartjie loop aaneen en ons kan dit nie toe maak nie. Ons het nou alles probeer. Kan oom asseblief kom help.”

“Natuurlik Libbie,” se oom Buks. “Ons sluit net toe dan kom ek.”

“Kan ek saamgaan om te help, oom?” vra Bakkies.

“Ag Bakkies, laat ek maar vir eers gaan kyk wat aangaan. Ek sal jou bel as ek hulp nodig het.” sê oom Buks, sy gesig weggedraai sodat Bakkies nie die geheimsinnigheid op sy gesig kan sien nie.

By Saartjie se huis maak Libbie die deur oop en die twee glimlag skelmpies met mekaar, dan lei sy oom Buks na die badkamer toe waar Saartjie besig is om die vloei van die water te probeer stop,

“Middag Saartjie,” groet oom Buks. “Laat ek probeer om die probleem op te los. Ek smaak so vir ‘n lekker koppie koffie, sal dit te veel moeite wees om dit maak?” vra oom Buks kamstig.

Die twee meisies los oom Buks in die badkamer en gaan kombuis toe om koffie te maak. Uit die badkamer, hoor hulle ‘n gekap en gedraai gepaard met ‘n paar onsuiwer woorde, gaan. Na ‘n paar minute kom oom Buks uit die badkamer.

“Meisies,” se hy. “ Ek het nou so gesukkel maar ek dink ek het die probleem gekry. Ek kon die water toedraai vir nou maar om die probleem op te los het ek my verstelbare moersleutel nodig en dit is in die winkel toegesluit. ”As hierdie skroef nie uitsorteer word nie, bars die waterpyp nog binne ‘n uur weer.”

Die twee meisies kyk na oom Buks. “Nou wat nou oom?” vra Libbie.

“Wel, hier’s die probleem. Bakkies het die sleutels van die winkel en net hy weet waar daardie moersleutel is. Hy is ook baie sterker as ek en sal die skroef veel stywer kan draai. As ek vir hom kan vra om dit te bring, kan ons die probleem oplos.”

Saartjie kyk na oom Buks, “Kan ons nie vir Riaan vra om die moersleutel by Bakkies te kry en dit tot hier te bring nie?”, vra sy.

“Riaan is mos op sportdiens vandag. Hy kom eers na sewe by die huis, Saartjie. Ons kan nie so lank wag nie,” se Libbie.

Na hulle uiteindelik vir Saartjie oortuig het dat hulle vir Bakkies nodig het, bel oom Buks hom en verduidelik wat die probleem is. Binne ‘n halfuur staan Bakkies voor die deur, moersleutel in die hand en ‘n verlëe uitdrukking op sy gesig. Saartjie kyk nie eers na hom toe hy instap nie en toe hy in die badkamer kom, kan hy nie die probleem vind waarvan oom Buks vertel het nie.

“Wag net so Bakkies,” sê oom Buks “Ek weet nou nie waar die stopkraan vir hierdie ding is nie, laat ek net gou vir Saarjie vra.”

Stopkraan? Vir ‘n gewone kraan? Waarvan praat oom Buks, alles is dan in order, daar is niks water wat vloei nie en die al die skroewe is styf vasgedraai. Toe hy omdraai om dit vir oom Buks te sê, staan Saartjie voor hom. Nog voor enige iemand iets kan se, word die deur toegemaak en van buite gesluit.

“Ek’s jammer Saartjie,” kom Libbie se stem van anderkant die deur, ‘maar jy en Bakkies moet praat. Julle maak julself siek deur mekaar so te vermy. Julle is lief vir mekaar, praat dit uit asseblief.”

“Asseblief Saartjie en Bakkies, dit maak my hart so seer om julle so te sien. Julle moet praat asseblief. Julle kan later kwaad wees vir ons, praat net met mekaar,” smeek oom Buks.

In die badkamer staan die twee jongmense oorkant mekaar, vir ‘n lang tyd heers daar ‘n doodse stilte. Oom Buks en Libbie maak dat hulle in die kombuis uitkom en Libbie begin aandete te maak vir hulle.

“Ek’s so jammer Saartjie,” sê Bakkies. “Ek weet ek vra baie van jou om my te vergewe, maar ek vra nederig - luister net na my.”

“Jy het dinge weggesteek vir my Bakkies. Jy het my verneder. Ek moes in die winkel hoor van jou verlede. Hoe kan jy my vra om jou te vergewe?”

Die seer in Saartjie se stem trek aan Bakkies se hartsnare, dit laat hom onmenslik voel, maar stadig en onseker begin hy sy storie aan Saartjie te vertel. Hy los niks uit nie, hy vertel van sy huislike omstandighede, die besluit om sy huis te verlaat, sy dae op straat, die dwelms wat hy gebruik het om net warm te bly, die honger wat hom nie wou los nie. En dan vertel hy hoe hy in die tronk beland het. Saartjie, wat nou plat op die vloer sit, se gesigsuitdrukking word sagter soos Bakkies sy storie vertel.

Die ure in die badkamer word langer en langer. Nadat Bakkies sy storie vertel het, vind Saartjie die moed om haar storie aan hom te vertel, Toe sy by die gedeelte van die aanranding kom, begin sy weer bewe. Bakkies, wat heeltyd stil gesit en luister het, beweeg vorentoe en neem haar in sy arms. Saartjie laat haar kop op sy bors rus terwyl sy haar storie klaar vertel.

Dit is amper twee uur die oggend toe Libbie, die badkamer oopsluit. Op die vloer vind sy vir Bakkies en Saartjie, arms om mekaar, Saartjie se kop op Bakkies se bors.

Sy glimlag stilletjies en wink oom Buks nader. “Ja,” dink oom Buks, “liefde oorheers selfs die diepste seer, al moet mens soms die liefde aanhits met ’n lekkende kraan en ‘n geslote deur.”

About the Competition

The Global Poetry and Creative Writing Competition 2026 by Hashtag Kalakar is a prestigious event that celebrates the art of storytelling and poetry from around the world. It is a platform where writers and poets can showcase their talents and share their unique voices with a global audience. This competition invites participants from various backgrounds to present their works, fostering a diverse and rich tapestry of literary expression.

We extend our heartfelt gratitude to Marie Corker for sharing "Saartjie se Seer" with us in the Global Poetry and Creative Writing Competition 2026. Her ability to capture the nuances of human emotion and resilience is truly commendable. Thank you, Marie, for contributing your voice and story to this global stage. We look forward to seeing more of your inspiring work in the future.

About Hashtag Kalakar

Hashtag Kalakar is a creative platform dedicated to providing artists, writers, singers and other creative talents with opportunities to showcase their work and reach wider audiences through competitions, features and creative initiatives.

 
 
 

Comments

Rated 0 out of 5 stars.
No ratings yet

Add a rating
bottom of page